God hoef nie saam te stem met ons nie
top of page

God hoef nie saam te stem met ons nie


Nicholas Epley en ‘n span navorsers het in 2009 in ‘n studie bevind dat as sommige godsdienstiges hulle standpunte oor ’n bepaalde saak verander, dan verander God Sy standpunt dienooreenkomstig volgens hulle. Anders gestel, as mense ’n groot skuif in hulle eie denke maak oor die vraag of iets reg of verkeerd voor God is, dan doen God blykbaar dieselfde. Nee wag, dan het Hy eintlik nog altyd soos hulle nuutste sienings oor daardie einste saak gedink. Mense wil graag hê God moet met hulle saamstem. Dan hoef hulle nie te veel oor sekere vraagstukke of probleme na te dink nie.


Natuurlik mag ons vra na God se wil in ons besluite. Nee wag, ons moet! Maar ons moet dit altyd in nederigheid doen. Ons moet dit ook reg doen. Die Here is nie ons persoonlike raadgewer, of ons leefstyladviseur nie. Hy is nie antwoorde aan ons verskuldig soos en wanneer ons dit benodig nie. Ook is die Bybel nie ‘n vraag- en antwoordboek, wat ons na willekeur kan oopslaan en verwag God moet daar en dan ‘n antwoord vir ons gereed hê nie. Ons weet en besef Hy is die Here. Ons buig altyd voor Hom. Ons wag getrou op Hom. Ons onderwerp onsself aan Sy wil, al verskil dit soms van ons eie planne of idees. Ons weet die Here praat die meeste van die tyd stroomop. Christus daag ons elke keer uit om onsself te verloën en om Sy kruis op te tel. Ons volg Hom volgens Sy bepalings, waar Hy ons lei, al is dit nie noodwendig die maklikste of die veiligste pad nie. Ons dwing die Here nooit om te loop waar onsself graag wil loop nie. Daarom leer ons om elke dag te bid soos wat ons Here Jesus daar in die tuin van Getesemane gebid het: “Nogtans nie my wil nie, maar U wil moet geskied!” Ons bid soos wat Jesus ons in die Ons Vader geleer het: “Laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde!”

bottom of page