Gesonde bewondering van mekaar is belangrik
top of page

Gesonde bewondering van mekaar is belangrik


Soms voel ek dat die fliekindustrie na Covid, nog nooit weer werklik uit die as opgestaan het nie. Dis maar ‘n persoonlike gevoel. Die een fliekreeks wat my egter weer hoop begin gee het (naas Tom Cruise se rolprente, natuurlik), is Dune en Dune – Part 2. Die spesifieke genre van hierdie wetenskapsfiksiereeks is egter uniek en sal beslis nie alle mense se gunsteling wees nie. Die fliek, wat gebaseer is op die skrywer Frank Herbert se reeks boeke, beskik oor ‘n uiters goeddeurdagte plot, uitstekende draaiboek, goeie toneelspel en uitmuntende musiek, gekomponeer deur Hans Zimmer. Wat egter die fliek so waardevol vir enige kyker maak, is die realistiese prentjie wat oor die gevolge van die verkryging en impak van mag geskets word. Die hoofkarakter is ‘n jong seun, Paul Atreides, wat sy leierskapsloopbaan met baie goeie morele en etiese waardes en suiwer aspirasies begin. Na sy aankoms op die planeet, Arrakis, beland hy in omstandighede, waar sommiges hom spoedig as ‘n soort messiaanse figuur begin sien. As gevolg van sy (aanvanklike) suiwer morele aspirasies is hy egter versigtig om die mag en guns, wat mense gereeld in sy rigting stuur, bloot te aanvaar. Op ‘n stadium vra die aanvoerder van sy weerwag vir hom:


Grab the power! What are you afraid of?!


...waarop hy eenvoudig antwoord:


Worship.


Waarom nie die mag aangryp nie? As jy baklei vir dit wat goed is, as jy self aan die kant van geregtigheid staan, as jy ‘n groot verskil kan maak met jou posisie, waarom terughou?


Die antwoord is die moontlike onvanpaste bewondering van mense. Worship beteken nie altyd dat iemand soos ‘n god aanbid word nie. Dit kan net beteken dat iemand die soort van bewondering kry, of selfs nastreef, wat vir ‘n mens onvanpas is om te ontvang. Paul Atreides is bang om onvanpaste bewondering van mense te ontvang. Ek en jy behoort dit ook te vrees.


Iemand het eenkeer die onderskeid tussen vertikale en horisontale bewondering getref. Ons praat hier van vertikale bewondering. Wanneer mense so begin opkyk na iemand en dink dat so iemand nooit meer ‘n fout kan maak nie, is dit ongesond. Horisontale bewondering en / of erkenning is geheel en al gepas, reg en selfs Bybels. Om op horisontale vlak mekaar raak te sien en deur mekaar geïnspireer te word, is geheel en al natuurlik. Om op hierdie vlak iemand se vermoëns en bydraes te bewonder, te geniet en erkenning daarvoor te gee, is ‘n natuurlike deel van gesonde Bybelse gemeenskap en liefdevolle saamwees. Paulus gee so erkenning aan verskeie gemeentes wanneer hy vir hulle sê: “Wanneer ek aan julle dink, dank ek God...” Om na mekaar te kyk en God se beeld in elkeen raak te sien en dit te vier en selfs met woorde uit te druk, is een van die maniere waarop ons mekaar kan liefhê. Baie Jesus-volgelinge kan gerus leer om heelwat meer erkenning uit te deel.


Ongelukkig begeer en eis baie mense (en leiers) vertikale bewondering van hulle geliefdes of medewerkers. Dis ‘n van-onder-af-boontoe-bewondering. Mense wat sulke bewondering eis, wil dikwels nie die negatiewe waarheid oor hulleself hoor nie, wil geen kritiek ontvang nie, al is dit ook hoe goed bedoel. Hulle wil nie tereggewys word nie en wanneer hulle wel teregwysing ontvang, is dit altyd die ander een se skuld. Hulle wil net heeldag hoor hoe geliefd hulle is en hoe hulle waardeer word. Sulke begeertes is toksies en lei uiteindelik tot sonde, vernietiging en swaarkry, as dit nie bely word en onder Jesus se heerskappy geplaas word nie. Kyk maar na die vernietigende lewens van soveel magtige mense. Daarom moet enige iemand, wat gereeld op ‘n verhoog staan, uiters versigtig wees. Ek is self so iemand en weet hoe verleidend dit kan wees. Mense, wat gereeld na hierdie mense opkyk van onder af, moet net so versigtig wees. Sulke “verhoogmense” kan enige iemand insluit, soos CEO’s, predikante, sangers, sang- en aanbiddingsleiers, leiers, bestuurders, ouers of onderwysers. Vir sulke mense behoort deeglike selfondersoek, nederigheid en gereelde belydenis uiters belangrik te wees. Hoogmoed lê net om die draai.


Die mense, wat na hulle kyk of luister, kan enige iemand wees, van gemeentelidmate, kinders in skoolbanke, werknemers of sommer net bewonderaars.


Horisontale bewondering is heel gepas, goed en reg.


Vertikale bewondering het God vir Homself alleen toegeëien.


Ons noem dit aanbidding.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page