Biodiversiteit in die Koninkryk van God
top of page

Biodiversiteit in die Koninkryk van God


Voor in The Natural History Book (Dorling Kindersley) staan daar geskryf: “Our blue planet, spinning in the vastness of space, is the only proven home of living things. Over nearly four billion years, life has evolved from the simplest of beginnings. Many species have become extinct, but life itself has flourished and endlessly diversified. The result is an extraordinary variety of living things, which scientists continue to study as they piece together the story of life on Earth.


Verder sê die skrywers dat slegs om en by 1,4 miljoen spesies tot op datum beskryf is, terwyl daar vermoedelik tussen twee en honderd en veertig miljoen spesies bestaan! Die diversiteit is verstommend!


Alle lewe op aarde word deur sisteme in stand gehou en hierdie sisteme is afhanklik van biodiversiteit, wat na die verskeidenheid van lewe op aarde op alle vlakke verwys, van gene tot ekosisteme, ingesluit die evolusionêre, ekologiese en kulturele prosesse, wat lewe ondersteun. Elke skepsel beskik oor unieke eienskappe, wat daartoe bydra dat lewe op aarde enigsins moontlik is.


Diversiteit is baie belangrik om die ideale omstandighede te skep waarbinne God se aardse koninkryk kan lewe en groei. Die kerk is gebou op verskillende mense met uiteenlopende persoonlikhede, gawes, agtergronde, tale, kulture en geslagte. Jesus Christus gebruik Christene, wat bereid is om hul andersheid aan te wend om die evangelieboodskap uit te dra en lig en hoop na ʼn gebroke wêreld te bring.


Dink jou ʼn wêreld in waar alle Christene oor presies dieselfde gawe, agtergrond of persoonlikheid beskik. Dit is ondenkbaar. 1 Korintiërs 12 verduidelik dat die Gees ʼn verskeidenheid van genadegawes, bedienings en vaardighede aan verskillende mense toeken. Dit moet gebruik word in diens van God en tot voordeel van Sy koninkryk en van ander mense (vers 7).


Die Bybel verwys reeds in Eksodus na gawes en talente, wat deur die Gees van God geïnspireer is. Die Gees het Besaleël en Oholiab toegerus met spesiale vaardighede, verstand en insigte om die tent van ontmoeting en ark te ontwerp en bou. Dit is verstommend om in Eksodus 31 en 35 te lees oor die kreatiwiteit, waarmee hulle geseën is. Eksodus 35 vertel hoe ander Israeliete toe ook volgens hulle vermoë en gawes bygedra het om onder leiding van Besaleël en Oholiab die ark en tent te bou en versier.


Jy is pragtig en kreatief geskape en die Heilige Gees het jou toegerus om ʼn spesifieke doel in God se koninkryk te dien. Geen Christen is sonder unieke gawes en talente geskep nie. God is ʼn God van diversiteit en verskeidenheid en elkeen is deel van die sisteem, wat Sy aardse werk moet bevorder. Gryp diversiteit en jou eie en ander se uniekheid aan en loof die Here daarvoor.

bottom of page