Geseënde Kersfees is nie ’n wens nie - dis ’n werklikheid!
top of page

Geseënde Kersfees is nie ’n wens nie - dis ’n werklikheid!


Herders, wyse manne, singende engele, ’n Kind in ’n krip … so klink die boustene van die Kersfeesverhaal. Maar hierdie einste Kind, met die vreemde geboorteverhaal, het opgegroei. Jesus was anders as wat mense van ’n messias verwag het. Geen entourage van singende engele het Hom vergesél nie. Stralekranse het nie bokant Sy kop geskyn nie. Nêrens het koninklikes met biddende hande Hom omring nie. Jesus en Sy getroue groepie volgelinge het van dorp tot dorp gestap, waar Hy die goeie nuus gedeel het dat die gety gedraai het. God se nuwe seisoen, Sy koninkryk, het in ons wêreld ingebreek.


Jesus se aardse sending het Hom moeg gemaak, soos wat Johannes 4:6 vertel, en dors. Juis in die dorp Sigar het Hy een keer by die waterput van Jakob tot rus gekom. Hier vra Jesus toe vir ’n Samaritaanse vrou water om te drink. Sy was geskok. Mans en vroue het nie eintlik in die openbaar gesels nie, wat nog te sê Jode en Samaritane. Maar so tussen die water skep deur, bied Jesus toe vir hierdie vrou ook van Sy soort water aan - lewende water. Sy genade het haar so oorweldig dat sy vir die dorpsmense van Hom gaan vertel het. Dadelik het hulle hul harte en lewens vir Jesus oopgemaak. Hyself het drinkwater by hulle dorp se put kom soek, maar in ’n oogwink het Sy lewende water hulle dorp oorspoel. Terloops, Jesus doen dit steeds. Ontvang Hom net as Eregas in jou huis, dan is ’n geseënde Kersfees nie net ’n wens nie, maar ’n realiteit. Dan word dit regtig ’n Christusfees!

bottom of page