Veroorsaak ’n goeie probleem
top of page

Veroorsaak ’n goeie probleem


“Veroorsaak ’n goeie probleem.” Dit klink vreemd. Tog is dit dikwels daardie mense, wat goeie probleme veroorsaak, wat die wêreld verander. Vra vir Paulus. Toe hyself agtergekom het dat die vroeë kerk besig was om in ’n semi-Joodse beweging te verander, het hy ’n goeie probleem veroorsaak. Hy het die evangelie na nie-Jode toe geneem. Hy het sendingreise aangepak wat die evangelie regoor die Romeinse Ryk versprei het. Dit het baie interne krisisse in Christelike geledere veroorsaak. “Wat van die besnydenis?” “Moet nie-Joodse gelowiges ook al die Joodse wettiese gebruike gehoorsaam?” Dit was die vrae, waarmee die leiers van die kerk in Jerusalem gekonfronteer is, soos wat Handelinge 15 en Galasiërs 2 vertel. Hierdie hoofstukke vertel egter nie net vir ons van die uitdagings, wat Paulus se radikale evangelieverkondiging veroorsaak het nie. Dit vertel ook van die leiding van die Heilige Gees, wat tot gevolg gehad het dat die kerk hierdie nuwe roete na nie-Jode toe aangegryp het.


Met God se hulp het Paulus en ander gelowiges daarin geslaag om die Christendom na ’n wêreldwye beweging, genaamd die kerk, te verskuif. Hier was mans en vroue, slawe en vrymense, Jode en nie-Jode ewe tuis. In Efesiërs 2:11-22 skryf Paulus padlangs dat Christus ’n nuwe mensheid by die kruis tot stand gebring het. Letterlik bedoel hy dat Christus ’n splinternuwe volk met ’n nuwe identiteit tot stand gebring het. Hierdie nuwe volk is vry van enige bestaande kulturele identiteite en gebruike. Hier is die middelmuur van skeiding, wat Jode en nie-Jode van mekaar geskei het, afgebreek. Hier by die kruis het Christus versoening tussen mense gebring.


Handelinge 15 en Galasiërs 2 vertel vir ons dat die vroeë kerk by hierdie nuwe roete, naamlik dat God vir Homself ’n universele nuwe volk tot stand gebring het, ingeval het. Hierdie einste “probleem” is steeds die regte oplossing. Wie weet, dalk moet ons vandag ook weer ’n paar goeie probleme op daardie plekke skep waar godsdiens in binnegevegte en dooie tradisies gestrand geraak het.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page