top of page

As Esau kon vergewe, kan ek ook!


Ek kan my Esau se reaksie goed indink, toe sy jonger broer sy reg as eersgeborene gesteel het en neem hom geensins kwalik nie. Jakob se naam beteken nie verniet “bedrieër” nie en hy het Esau reeds van geboorte af aan die hakskeen in ’n greep beet gehad, wat nooit sou skiet gee nie. Hy wil tog so graag die oudste wees en Jakob is ’n man met ’n plan, sy ma se seun. Dit is ook sekerlik sy, wat hom geleer kook het ... Toe Jakob se tweelingbroer doodmoeg en honger uit die veld kom, staan hy reg met die geurige lensiesop. Esau moes reeds van ver af die heerlike kosreuke geruik en met afwagting na ’n happie “rooi goed” uitgesien het. Jakob het sekerlik die pot op ’n strategiese plek windaf geplaas en vir Esau met ’n proposisie ingewag: “Verkoop eers jou reg as eersgeborene aan my.”


Esau val vir die slinkse bedrieër.


Jakob se bedrieglike streep het vir hom groot moeilikheid veroorsaak en hy moes vlug vir sy lewe. Ek kan my goed indink dat Esau hom in die hitte van die oomblik sou kon kafdraf.


In Laban ontmoet Jakob sy bedrieënde eweknie en kry van sy eie medisyne terug! Hy blyk egter die bedriegliker bedrieër van die twee te wees, want op die ou end trek oom Laban aan die kortste end.


Om terug te kom by Esau en Jakob. Het Esau ooit vir Jakob teruggekry. Is die bedrieër ooit tot verantwoording geroep of het hy skotvry daarvan afgekom? Het Esau, verteer deur bitterheid, die wraakmonster gekoester en gevoer?


Esau het intussen ’n vermoënde man geword en toe Jakob besluit hy het genoeg van Laban gehad, moes hy deur Esau se land terugtrek na sy ouerhuis.


Jakob het goed geweet dat hy sy broer se gramskap verdien en besef dat hy nou, na twintig jaar van ballingskap, die storm sal moet instap en verduur (in Engels face the music).


Jakob kan nie net by Esau inval nie en stuur boodskappers met beloftes van onderdanigheid om uit te vind of hy welkom sal wees. Die boodskappers kom druipstert terug met onrusbarende nuus: Esau is reeds op pad met vierhonderd man aan sy sy. Jakob weet wat kom en hy bid beangs dat God hom en sy gesin sal red van ʼn gewisse dood.


Hy stuur ʼn versoeningsgeskenk in die hoop dat Esau hom vriendelik sal ontvang. Groot is Jakob se verligting en verbasing, toe Esau hom tegemoet hardloop en omhels. Esau het sy arms om Jakob se nek geplaas en hom gesoen en hulle het gehuil.


Is dit nie ’n pragtige storie van die wonder, wat vergifnis nie net vir die gewer inhou nie, maar ook vir die ontvanger?

Comments


bottom of page