Bekommernis - so maak mens
top of page

Bekommernis - so maak mens


Lees 2 Korintiërs 4:18


Moenie dat bekommernis jou lewe bederf nie. Kry dit dadelik uit jou lewe uit. Nee, nie later nie, sommer nou dadelik! Bekommernis is ‘n geloofdief. Dit gaan teen die grein van die Gees se werk in jou lewe in. Bekommernis en Geesvervuldheid kan nooit op dieselfde tydstip op dieselfde plek in jou lewe gebeur nie. Bekommernis en geloof is nie goeie bure van mekaar nie. Hulle is nie eens amperse vriende nie. Bekommernis krap die nuutmakende werk van die Gees in jou lewe elke keer om. Dit veroorsaak dat jy jou oog van sy nuutmakende werk af verskuif.


Hoe maak ‘n mens met kommer? Die geheim is reeds ontrafel: Jy hou op bekommer. So eenvoudig soos dit. Begin om die Here met die detail van jou lewe te vertrou. Met daardie einste kop en hart van jou, wat jy vol bekommerdinge geprop het, kies jy om van nou af op die Here te fokus. Soos ‘n kind, wat alles van ‘n goeie en liefdevolle ouer verwag, so verwag jy van nou af alles van jou Hemelse Vader. Dis hoe bekommernis in jou eie lewe ‘n rooi kaart kry. Dis hoe bekommernis op jou voorstoep verloor! Hou van nou af jou geloofsoog net gefokus op die Here. Kyk Hom in die oog, nie jou probleme nie. Vat die Here op Sy woord en moenie luister na al die stemme van kommer rondom jou nie.


Gebed:

Laat bekommernis asseblief vandag elke rondte in my lewe verloor, Gees van God. Amen.

bottom of page