Nog eens, heilige chaos!
top of page

Nog eens, heilige chaos!


Lees 1 Korintiërs 14:33


Terwyl te veel kerklike aktiwiteite doodveilig en voorspelbaar is, is die regte lewe daarbuite meestal onveilig en onvoorspelbaar. Die lewe is soms chaoties, seer en swaar. Mense se lewens val daarom nie ordelik uitmekaar nie. Dinge loop nie beskaafd buite beheer nie. Sommiges hou maar net ‘n vroom front voor, maar chaos kenmerk hierdie woeste lewe waarbinne ons leef. Storms woed. Donker wolke rol in. Chaos volg op die hakke van armoede, siekte, misdaad, wanvoeding, gebroke families en wat nog alles. Maar dis juis hier waar Jesus tuis is, maar vele kerkmense nie! Trouens, vele kerklikes se missie in die lewe is juis om sulke chaotiese situasies te vermy. ‘n Gereelde kerkganger sê nou-die-dag sy vermy haar aangetroude familie, want hulle is nie kerkmense nie. Moes dit nie andersom gewees het nie? Moes hulle nie juis saam met Jesus en die Gees te midde van die chaos geloop en geleef het om daardie mense te dien en hulle in Sy Naam terug te wen nie?


Dis nie ons werk om alles ordelik en voorspelbaar te maak nie. Ons moet chaos gedurig in heilige chaos omskep deur Christus te verteenwoordig te midde van die stukkendheid rondom ons. Ons moet God se hande, stemme en voete in die regte, deurmekaar lewe wees. Ons moet nuwe lewe verteenwoordig midde in die chaos. Helaas skitter ons te veel male in ons afwesigheid in die chaos, omdat ons godsdienstige ordelikheid gekies het.


Gebed:

Here, stuur my in die chaos van die wêreld in, maar gaan asseblief self ook saam. Amen.

bottom of page