Die verskil tussen heilige chaos en gewone chaos
top of page

Die verskil tussen heilige chaos en gewone chaos


Lees 1 Korintiërs 14:32


Christene is te bang vir chaos. Miskien is dit omdat ons in die kerk grootgemaak is met ‘n vrees vir die onbekende en vir die “sondige wêreld” daarbuite. Ek onthou hoeveel male kerkraadslede al vir my gesê het om tog nie die mense te ontstel nie. Seker daarom dat ‘n leraar onlangs, toe ek genooi is om by sy gemeente te kom preek, vir my gevra het om nie sy lidmate ongemaklik te laat voel nie!


Nou ja, daar’s ‘n verskil tussen chaos en heilige chaos. Chaos is ongeordende, ongekarteerde lewe. Orde is daardie strukture en instellings wat mense vanuit hulle eie waardes as ‘n sambreel bo-oor die lewe oopmaak. Orde is daardie dinge wat mense in plek kry om die onbeheerbare, wanordelike lewe rondom hulle onder beheer te bring. Daarom orden ons graag ons familie, werk, kerk en samelewing sodat ons op ‘n voorspelbare, veilige manier kan leef. Maar nou vir die skok: ons behoefte aan ordelikheid verhinder ons soms om die Gees te hoor. Sy primêre werksterrein is nie ‘n netjies geordende, veilige kerk nie, maar chaos. Hy loop graag rond waar donkerte wen en waar stukkende mense in sonde verdrink. Daar red Hy mense. Daar omskep Hy chaos in heilige chaos! Die Gees spesialiseer nie in voorspelbaarheid en veiligheid wat te veel kere met godsdienstiges se idee van orde gepaard gaan nie; Hy bring nuwe lewe te midde van ‘n chaotiese lewe. Hy heilig gewone chaos!


Gebed:

Leer my om agter U aan te stap in die chaos van hierdie wêreld en te ervaar hoe U lewens daar aanraak. Amen.

bottom of page