Geen “pity party” nie, want Jesus is terug
top of page

Geen “pity party” nie, want Jesus is terug


In Engels praat mense soms van ’n “pity party”. Dit gebeur wanneer jy jouself eindeloos jammer kry. Dit gebeur wanneer jy begin glo niemand se lot is so swaar soos joune nie. Dit gebeur wanneer jy voel niemand kry jou jammer genoeg, terwyl jyself in jammerkry-laagte vasgeval het nie. Presies so-iets gebeur met die dissipels daardie eerste Sondagaand na Jesus se kruisiging. Hulle eerste “aanddiens” het maar droewig afgeskop, soos wat Johannes 20:19-24 vir ons vertel. Hulle het gehoor Jesus se graf is leeg, maar hulle het gesukkel om te glo dat Hy uit die dood opgestaan het. Daarom was die deure van hulle skuilplek op slot en grendel. “Slegs wegkruipers welkom,” is eintlik die woorde wat daar op die deur geskryf moes gestaan het. “Bly weg!” met ander woorde. Hoop het verlore geraak in hulle midde. Moedeloosheid het verander in hulle beste vriend.


Toe daag Jesus ongenooid in die midde van sy uitgeknikkerde dissipels op. Nog meer: Toe daag Hy op met ’n hand propvol vrede. Twee keer daardie aand hoor hulle hemelse musiek, as Jesus vir hulle sê: “Vrede vir julle!” Shalom! Hemelse vrede het in hulle midde gearriveer. God se Seun het aangekom. Jesus was terug van die anderkant af. Hy het die dood uit die pad geloop. Toe het die dissipels se selfbejammering in ’n oogwink verdamp. Hulle jammerkry was skielik oor en verby. Die Here het immers tussen hulle opgedaag. Die donker het gevlug. Twyfel het die pad gevat. Christus se vrede het steeds nog hierdie effek op al Sy volgelinge. Maak net jou oë en jou hart oop. Jesus het ook by jóú opgedaag. Kyk mooi. Kyk Hom raak. Dan verdamp al jou moedeloosheid ook.

© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page