Die kruis is nie ‘n vroom fotosessie nie
top of page

Die kruis is nie ‘n vroom fotosessie nie


Selfies saam met bekendes is gewild. Almal wil graag foto’s saam met hulle helde hê. Nog altyd wil mense in die teenwoordigheid van bekendes gesien word. In die era voor kameras was dit ook die geval. Gaan kyk maar na baie skilderye van Jesus se kruisiging deur die eeue, dan sien jy hoeveel mense het hulleself laat inverf in tonele van Sy kruisiging. Koninklikes en magshebbers het gedurig rondom Hom by Sy kruisiginggestaan. In vandag se taal sou ons sulke skilderye die selfies van die Middeleeue en later kon noem.


Kom ons herinner mekaar opnuut daaraan dat die kruis nie ’n vroom fotosessiegeleentheid saam met Jesus is nie. Sy kruis is die plek van verlatenheid en dood. Dit is die plek waar plekke geruil word. By die kruis word Jesus verneder. Daar trek Hy namens ons almal die vuur op Homself. Daar betaal Hy al ons skuld af. Daar verslaan Hy alle teenmagte, wat tussen God en ons staan. Daar sterf Jesus uiteindelik ook. Dit is presies wat die kruis die hemel kos. Daarom dink ons juis in hierdie dae na oor hoe baie Jesus vir ons elkeen gely het. Ons rou in hierdie tyd oor wat dit Hom alles gekos het om ons te verlos. Ons kyk na Sy kruis en ons staan verslae. By die kruis buig ons in diep eerbied voor God, wat Sy liefde sigbaar by Golgota vir ons kom wys het. Maar by die kruis kyk ons ook vorentoe in hoop en geloof. Ons leef vanuit die hoop van Opstanding-Sondag se leë graf. Ons weet dat ons Heiland leef!

bottom of page