Is jy ‘n termostaat of ‘n termometer?
top of page

Is jy ‘n termostaat of ‘n termometer?


Die termometer, wat die meeste van ons in ons grootwordjare leer ken het, is daardie koorspen waarmee ‘n besorgde ma ons koors gemeet het. Die temperatuur rondom die termometer bepaal wat die termometer reflekteer, watter lesing dit gee, hoe dit reageer.


‘n Termostaat, daarenteen, word uitsluitlik gebruik om temperatuur te beheer, wanneer dit afwyk van ‘n vooraf ingestelde temperatuur. My oondtermostaat hou die temperatuur op die hitte, wat ek gestel het voordat ek ‘n koek of ‘n gereg in die oond sit. Wanneer ek die oonddeur oopmaak en van die hitte ontsnap, bring die termostaat die hitte weer terug na die verlangde temperatuur.


In ons geestelike lewe en in ons daaglikse omgang kry ons Christene, wat soos ‘n termometer is. As hulle by die braaivleisvure of om die koffietafels deel is van negatiewe gesprekke oor die benarde toestand van die land, die beurtkrag en korrupsie, of die familielid / kollega / onderwyser van wie niemand hou nie, praat hulle rustig saam. Hulle “meet” die swartgalligheid en negatiwiteit, maar doen niks daaraan nie – hulle reflekteer dit eerder, net soos die termometer. Hulle teenwoordigheid maak geensins ‘n verskil aan die gesprekke of omstandighede nie.


Paulus moedig ons aan om nie soos termometers te wees, wat bloot die temperatuur reflekteer waarin ons is nie, maar om soos termostate te wees. Hierdie termostate is deur Christus geprogrammeer en maak ‘n verskil waar hulle is. Wanneer die temperatuur en atmosfeer om ons met moedeloosheid, bitterheid en angstigheid oor die toekoms gevul is, kan ons ‘n verandering teweeg bring, omdat ons termostaat deur Christus ingestel is. Ons kan hoop en bemoediging bring met ons woorde en optrede, ons vriendelikheid, barmhartigheid en vrygewigheid bring. Deur tyd af te staan om te luister, te bid en te help, maak ek ‘n bydrae om iemand anders se las ligter te maak. “Dra mekaar se laste en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus.” –Galasiërs 6:2 AFR83


Die Heilige Gees kom verander my lewe dat ek ‘n verskil, ‘n verandering kan maak. Is my woorde opbouend, my gedagtes in lyn met God se Woord? Stel ek my “termostaat” vroegoggend volgens God se Woord en gebed sodat ek my dag met Hemelse vreugde en dankbaarheid kan ingaan? Het ek ‘n diensbare en gewillige hart om ‘n verskil te gaan maak by wat ookal oor my pad kom?


“When you know you belong to Him, you can be a thermostat instead of a thermometer because you know you have an identity and a security that is rooted in something you can't lose. It is the freedom of knowing that whatever is at stake in this situation isn't all there is; you're anchored to Jesus Christ, His unloseable love, and His unstoppable plans.” - Ron Hutchcraft

bottom of page