Wanneer die feestyd verby is…
top of page

Wanneer die feestyd verby is…


Ek dink die meeste mense geniet die feestyd. Luilekker kuiers saam met vriende en familie, rustigheid by die see of in die Bosveld, geen wekkers wat gestel moet word nie … dan voel ‘n mens sommer oor die algemeen meer vrygewig en wellewend. Maar wat gebeur wanneer die feestyd verby is en ons weer moet aangaan met ons besige lewens?


Net na Kersfees het die volgende gedig, The Work of Christmas, deur Howard Thurman, my werklikwaar aangegryp:

When the song of the angels is stilled,

When the star in the sky is gone,

When the kings and princes are home,

When the shepherds are back with their flock,

The work of Christmas begins:

To find the lost,

To heal the broken,

To feed the hungry,

To release the prisoner,

To rebuild the nations,

To bring peace among others,

To make music in the heart.


God het Kersfees vir ons moontlik gemaak, toe Hy Sy Seun aarde toe gestuur het. Jesus het ons kom verlos deur vir ons sonde aan die kruis te sterf. Jesus het vir ons ‘n voorbeeld op aarde kom stel. Voordat Hy opgevaar het na die hemel, het Hy ons opdrag gegee om dissipels vir al die nasies te wees. As ons dus die Ventertjie afpak en die bondels wasgoed in die wasmasjien gooi, begin die eintlike werk van Kersfees. Nou is dit ons tyd om ‘n lig te wees. Dis ‘n splinternuwe jaar, waarin mense Jesus se lig in jou kan sien skyn.


As ons lig wil wees, moet ons vrygewig met ons gawes, talente, tyd, onsself en ook ons finansies wees. As jy die werk van Kersfees wil voortsit, beteken dit jy gaan moet nadink oor jou leefstyl. As jy sommer net weer by die gejaag ingeval het, dink ‘n bietjie oor die volgende: Spandeer jy kwaliteit tyd saam met God? Gee jy die beste van jou menswees vir jou eggenoot en jou gesin? Kan jou kollegas en vriende Jesus se lig in jou raaksien? Is jou hand oop om jou goed en geld met ander te deel? Is jy ‘n instrument van vrede of stook jy kwaad?


Die waarheid is dat die meeste van ons ‘n besige leefstyl het, maar met ‘n paar aanpassings en die doelwit om Kersfees se werk voort te sit, is dit moontlik. Ek glo dat ‘n mens dan ook self die vrede en vreugde van Kersfees die hele jaar deur sal ervaar. Kom ons onthou Matteus 5:14: Julle is die lig wat die wêreld moet verlig.

bottom of page