Gaan vir die beste
top of page

Gaan vir die beste



Gaan vir die beste gawes – so skryf Paulus. Wat bedoel hy? Wel, soos wat ons gister gesien het, stel Paulus nie ten diepste so baie belang in daardie geestelike gawes, wat slegs indiwidue in hul eie verhouding met die Here opbou nie. Nee, die eintlike punt van kerkwees is nie my eie geloofsopbou nie, maar die opbou van ander. Nee, wag, jy het dit nie mooi gehoor nie. Kom ek sê dit weer: die belangrikste gawes in die kerk is daardie wat ander gelowiges opbou! Dit gaan oor ander, nie oor my nie. Altans, dis hoe dit behoort te wees. Maar helaas snap die kerk dit nie. Ook al staan 1 Korintiërs 14 lewensgroot in die Bybel, waar Paulus ‘n selfopbougawe, soos spreek in tale, afskaal tot laaste in die ry in terme van die nuttigheid daarvan om ander gelowiges op te bou, forseer vele dit steeds na die voorgrond.


Selfs na 2000 jaar se kerkwees snap ons dit nog nie dat die hartklop van kerkwees daaroor gaan dat ons ander in Christus se Naam moet dien en opbou in hulle geloof nie. Christenskap is na sy wese ‘n diensgerigte godsdiens, nie ‘n geestelike magsvertoongodsdiens, soos wat baie dit probeer uitmaak nie. Daarom dat Paulus daardie gawes, wat met mag geassosieer word, terugskaal en daardie gawes, wat bydra tot die diens aan mekaar, benadruk. Het jy dit al begryp dat Christelike diens groter is as geestelike kragvertonings?


Gebed:

Laat U kerk weer begin om mekaar te dien, Here Jesus. Amen.

bottom of page