Jy kan nie donker wolke raaksien as Jesus se lig op jou skyn nie
top of page

Jy kan nie donker wolke raaksien as Jesus se lig op jou skyn nie


“Daar hang ’n donker wolk van vrees en hooploosheid oor ons land,” sê ‘n onbekende vir my na kerk. “Waar?” vra ek dadelik. “Alles val uitmekaar. Niemand het hoop vir die toekoms nie,” reageer hy.


“Leef ons ooit in dieselfde koninkryk?” vra ek. Terwyl daar vraagtekens op sy gesig is, sê ek: “Ek leef in God se koninkryk. Christus se helder lig verblind my heeltemal vir al daardie donker wolke!” “’n Mens moet darem ook nie blind wees vir alles wat verkeerd loop nie,” antwoord hy. “Natuurlik nie, maar ek dink nie godsdienstiges sukkel met sulke blindheid nie. Dit lyk my hulle ken die regering en die kerk se foute beter as die res,” sê ek.


“Sien jy nie hoedat kerke leegloop nie?” spreek hy my aan. “Dit mag plek-plek waar wees,” antwoord ek, “maar sien jy ooit al die geloofsgemeenskappe raak wat regoor ons land die evangelie reg uitleef? Ons ekerk groei dat dit klap. Die koninkryk van God is orals met ’n opmars besig. Orals in die land kom mense tot inkeer. Gelowiges word vernuwe. Armes word gehelp. Behoeftiges word gedien. My oog is hierop gerig.”


Hoor asseblief die goeie nuus: Christus is hier by ons. Hy is besig om die duisternis te verdryf. Kom staan net in Sy lig en leef.

bottom of page