Gebruik hulle reg
top of page

Gebruik hulle reg



Wat ’n voorreg dat die Heilige Gees by elkeen van ons juis daardie hemelse geskenke kom aflaai, wat ons nodig het om regtig bruikbaar in Sy diens te wees. Ongelukkig het baie Christene nog nooit die geskenkpapier van hulle hemelse geskenke afgehaal nie. Andere weer haal die papier slegs vir ’n rukkie af, net om dit daarna weer in ’n kas weg te pak om stof te vergader. Ons moet dadelik ophou hiermee. Ons moet ons gawes daagliks gebruik en dit ook reg doen.


Tot dusver het ons drie belangrike beginsels vir die regte gebruik van die Gees se gawes ontdek, naamlik dat ons ons gawes moet aanwend om te bely Jesus is die Here. Voorts moet ons dit tot voordeel van ander gebruik. Dan moet die gawes ook binne die bedding van God se liefde beoefen word. Die Heilige Gees se “liggaamsbouprogram” maak dat Hy ons lei om die fokus weg van onsself na ander rondom ons te verskuif. In 1 Korintiërs 12:13 sê Paulus dat ons almal met een Gees gedoop is. Die Heilige Gees is aan die ganse kerk gegee. Hy werk nie maar net in my lewe nie. Nee, Hy verbind my van die eerste oomblik van my bekering af aan almal, wat saam met my in Christus glo. Hy maak my oë oop om ander gelowiges rondom my raak te sien, om hulle behoeftes in ag te neem, om vir hulle te sorg, hulle te bemoedig en vir hulle te bid.


Gebed:

Ek onderwerp my aan U wil, o Gees. Leer my om volgens U voorskrifte U gawes te gebruik. Amen


bottom of page