Elkeen, letterlik elkeen, is belangrik
top of page
  • Writer's pictureekerk

Elkeen, letterlik elkeen, is belangrik


In hierdie My Wêreld nuusbrief skryf Roedolf Botha oor die film Greyhound en wat dit ons kan leer oor liefde vir ons vyand.
Elkeen, letterlik elkeen, is belangrik

deur Roedolf Botha


Ons leef in ‘n tyd wat mense geen agting meer vir mekaar het nie, veral nie vir jou teenstaanders of vyande nie. Dis tog jammer, ek het nog altyd gedink dat dit juis een van die aantreklike dinge van die Goeie Nuus van Jesus is: dat mens onder leiding van die Heilige Gees die kapasiteit kan ontwikkel om liefde te openbaar, selfs vir jou vyand. Lyk my egter nie alle Christene voel so nie.


Ek sien nou die dag op Facebook hoe ‘n paar gelowiges gekritiseer word omdat hulle aangerand en beroof is en toe vir hulle aanvallers gebid het. Die reaksies op hierdie gebeure het egter gewys dat gelowiges blykbaar hulle liefde vir hulle vyande verloor het. Die arme bidders is voor die voet gekritiseer en aangeval omdat hulle so simpel is om vir hulle aanvallers te bid! Ek moet sê ek was ietwat onkant gevang. So iets was na my mening nog altyd iets wat geadmireer behoort te word, nie bespot te word nie.


Selfs Hollywood verstaan liefde vir jou vyand as ‘n deug. Hoe het ons dit dan gemis?


Een van die nuwe rolprente wat op Apple TV vrygestel is, getiteld Greyhound, dien as ‘n goeie voorbeeld van hierdie beginsel. Dit vertel die ware verhaal van kommandeur Ernest Krause, gespeel deur Tom Hanks. Hy is ‘n vloot bevelvoerder wat sewe- en dertig vragskepe tydens die Tweede Wêreldoorlog veilig oor die Atlantiese Oseaan moes begelei tot in Liverpool. Die groot uitdaging was egter dat hulle maklik die weerlose prooi kon word van Duitse duikbote in die middel van die oseaan, waar die Geallieerde lugmag hulle nie meer kon beskerm nie.


Dit gebeur dan ook soos verwag. Die fliek wys baie effektief hoe hierdie vloot meedoënloos aangeval word in die kwesbaarste deel van hulle reis. Dit illustreer meesterlik hoe vernuftig, taai en vaardig die vloot moes wees om hierdie reis te oorleef. Die Duitsers het alle voordeel aan hulle kant omdat dit bykans onmoontlik was om die duikbote waar te neem. Kommandeur Krause blyk egter uiters bekwaam te wees en doen ‘n goeie werk. Die rolprent beeld hom onbeskaamd uit as ‘n Christen wat sy rol as ‘n Goddelike roeping beleef. Een toneel wat uitgestaan het was toe die Geallieerde vloot uiteindelik uit verdediging hulle eerste duikboot raakskiet en vernietig. Die ganse bemanning op die Greyhound – naam van die skip waarop Krause diens doen – het hande in die lug gegooi, gejuig en feesgevier hieroor. Krause het egter slegs ‘n somber uitdrukking op sy gesig gehad. Toe een van sy bemanning vir hom vra wat dan fout antwoord hy bloot met die woorde:


We just killed thirty souls.

Vir hom was elkeen belangrik, ook sy vyande. Hy was geensins naïef nie. Hy het geweet dis oorlog. Hy het goed verstaan dat oorlog nie anders kan werk nie. Hy het verstaan dat vir geregtigheid om te seëvier, oorlog soms noodsaaklik is. Dit het hom egter nie laat empatie verloor vir sy vyande nie. Hy het geweet dat God se hart breek wanneer mense mekaar vernietig, selfs al staan sommige mense aan die verkeerde kant van geregtigheid. Dis tog wat ons anders maak. God self laat dit reën en die son opkom oor regverdiges sowel as onregverdiges. Jesus sê dan self in dieselfde teks (Matteus 5:44, 46-47):


Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg... As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook maar net so nie?

Elkeen is belangrik. Waarom dan nie vir ons vyande bid nie? Of het ons die krag en radikale liefde van die Evangelie verloor? Soms wonder ek of Jesus nog sy eie kerk sal herken as die liefdevolle gemeenskap wat ons veronderstel is om te wees, wanneer Hy na ons kyk. Ek wonder ook hoe anders ons gesprekke op sosiale media sal lyk wanneer almal Ernest Krause se houding sou inneem teenoor ons vyande of teenstaanders.


Dis tog Jesus self wat van die kruis af bid, Vader vergewe hulle…


Hoe kan ons dan minder doen?

bottom of page