Ek kan nie ander mense se lewensbeker volmaak nie, maar…
top of page

Ek kan nie ander mense se lewensbeker volmaak nie, maar…


Op ’n dag het ek besef ek kan nie ander mense se lewensbekers volmaak nie. Vir baie lank in my lewe het ek geglo dit is wat ek moet doen. Toe besef ek dit is my roeping om slegs my eie lewensbeker aanhoudend leeg te maak in God se diens. Ek is geroep om myself te gee, afgesien van die resultate hiervan. In Jesus se woorde in Johannes 7:38-39 is ek geroep om die Gees se lewende water vanuit my binneste te laat vloei en nie om resultate na te jaag nie. As sulke leegmaakaksies ander mense help, dan is dit suiwer genade. Resultate is egter nie my afdeling nie. Dit is ook nie my opdrag nie. God vra slegs dat ek myself gee met daardie paar talente, wat Hy aan my toevertrou het. God vra dat ek getrou sal wees aan Hom, nie dat ek suksesvol, gewild, bekend of belangrik sal wees nie. Inteendeel!


My roeping is om leeg genoeg te wees sodat die Here my gedurig kan volmaak om myself nogmaals leeg te gee. Dan vloei daardie strome van seën van Bo in en deur my lewe. Dan is ek nuttig en bruikbaar in die Heer se goeie diens.

bottom of page