Ek bid as die land brand … en elke ander dag ook
top of page

Ek bid as die land brand … en elke ander dag ook


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor "Ek bid as die land brand … en elke ander dag ook"
Ek bid as die land brand … en elke ander dag ook

Julie-maand was afbrandmaand in Suid-Afrika. Ons almal was (en is) nog besig om te treur oor soveel geliefdes, wat gesterf het as gevolg van Covid, toe bars chaos los. Winkelsentrums en fabrieke is geplunder en geboue is afgebrand. Dit was traumaties. Vanuit alle oorde is ons opgeroep om te bid. Terwyl ek dit gedoen het, het ek vir ’n oomblik gewonder hoekom roep mense mekaar eintlik net in krisistye op tot gebed. Voordat jy my verkeerd hoor, ons moet mekaar vir seker aanspoor om te bid. Maar ons doen dit nie net as die land brand nie. Of as die reën nie val nie. Die Bybel sê ons moet dag en nag bid. Sonder ophou moet ons die Here se aangesig soek.


Israel het ’n gewoonte daarvan gemaak om net in krisistye God se hulp te soek. In Jesaja 58 weier die Here egter om by een so ’n vasdag van die volk op te daag. Hulle daaglikse lewe is propvol liefdeloosheid en korrupsie. Daarom weier die Here om na hulle gebede te luister totdat hulle hulle lewens met hulle gebedebelyn het. Dit geld vir ons ook. Ons moet reg leef en reg doen sodat ons reg kan bid. Ons mag God nie net aanroep om ons in ons krisisse te help nie. Dit is Jesus se punt in Johannes 6 as Hy weier om vir ’n tweede keer brood te vermeerder vir die skare, wat dit van Hom vereis. Hy vertel dan vir hulle dat hulle grootste nood hulle eie verlorenheid is. Hulle benodig Hom heel eerste as die Brood van die Lewe, nie net as ‘n daaglikse verskaffer van tydelike brood nie. Die reuse skare loop dan weg, omdat Jesus weier om aan hulle versoek te voldoen. Slegs Petrus en die dissipels bly oor. Petrus se rede is aangrypend: hulle het Jesus se woorde geproe, wat vir ewig lewe gee! Dit geld steeds in Augustus 2021. Vandag nog wil Jesus hê mense moet Hom heel eerste aanroep, omdat Hy lewe gee!

bottom of page