top of page

Hou op om ander mense te probeer verander


Stephan Joubert skryf in hierdie Goeie Nuus nuusbrief dat ons moet ophou ander mense probeer verander.
Hou op om ander mense te probeer verander

Hoekom wil party mense gedurig almal rondom hulle verander? Is dit dalk omdat hulle dink hulle eie lewens is reeds uitgesorteer? Al wat eintlik nog moet gebeur, is om ander mense sover te kry om presies soos hulle te wees. Wel, die Here roep ons nie om ander mense te probeer verander nie. Of die land nie. Of die wêreld nie. Wag, dit beteken nie ons het geen verantwoordelikheid teenoor mekaar nie. Tekste soos Genesis 4, Esegiël 18 en Matteus 18 sê juis dat ons het. Ons is aanspreeklik vir mekaar. Jare gelede het ek iewers gelees hoe iemand hierdie verantwoordelikheid op ’n interessante, eietydse manier verwoord:

“I’ve stopped trying to make a diff; I just love the ones I’m with!”

Ons kan nooit wegstap as ander mense droogmaak nie. Of as hulle seerkry nie. Of as hulle honger is nie. Maar dit is nie ons werk om hulle te verander nie. Wat dan? Ons roeping teenoor ander mense is om hulle lief te hê. En om hulle te dien. En om hulle laste te help dra. En om vir hulle te bid. En om hulle nood te verlig. En om hulle met die waarheid te bedien. God roep ons op om met Sy liefde en deernis in die lewe aanwesig te wees. En in die lewens van ander rondom ons. Dan gebeur die lewensveranderende werk van die Gees op Sy eie maniere.

Comments


bottom of page