Die groot gelykmaker is nie die dood nie
top of page

Die groot gelykmaker is nie die dood nie


Stephan Joubert skryf in sy nuutste Goeie Nuus oor "Die groot gelykmaker is nie die dood nie"
Die groot gelykmaker is nie die dood nie

n Ou spreuk sê na elke skaakwedstryd beland al die pionne en die koning in dieselfde boks, bedoelende die dood is die groot gelykmaker. Dan maak dit nie saak of jy ’n koning of ’n pion was nie. Korreksie: die lewe is eintlik die groot gelykmaker. Wag, gelóóf is! Dit is geloof, wat die speelveld hier en nou en tot in die verste ewigheid uitsorteer. Jesus sê in Johannes 3 dat elkeen, wat in Hom glo, nou reeds aan die ewige lewe deel het. Dit begin hier en nou. Dit setel in Jesus. Om in Hom te glo, is om deel te hê aan sy lewe, wat nooit ophou nie. Aan die anderkant, om nie te glo nie, is om nou reeds deel te hê aan die dood, wat nooit sal ophou nie. So sê Jesus ook in Johannes 3. Presies dit gebeur hier en aan die anderkant, waar die ewige lewe en ewige dood finaal uitspeel.


In Jesus se gelykenis van Lasarus en die ryk man in Lukas 16 hoor ons juis hoedat die rolle aan die anderkant van die dood omruil. Daar beland die ryk man, wat net vir homself geleef het, in die doderyk. Lasarus kry egter ’n ereplek by Abraham. Die einde aan hierdie kant is die begin van nuwe dinge aan die anderkant. Wanneer die eindfluitjie hier en nou blaas, betree ons ‘n ewige nuwe speelveld. Maar die reëls vir die anderkant is nie geklassifiseerde inligting nie. Geloof is immers die groot gelykmaker van die speelveld van die lewe. Geloof in Christus bepaal ons lewe aan beide kante van die lewensdraad!

bottom of page