Is God toksies vir die samelewing?
top of page

Is God toksies vir die samelewing?


“God is not great” is die titel, wat die beroemde ateïs, Christopher Hitchens, sy bekende boek gegee het. Hierdie woorde sinspeel natuurlik op die mantra wat deur Moslems geuiter word, naamlik “God is great, God is great!” Vir Hitchens is dit egter andersom. God is nie goed nie. Geloof is nie goed vir mense nie. Dit is werklik sy opinie oor God en ander gelowige mense. Hy was ‘n oortuigde kampvegter vir ateïsme en het geglo dat geloof in God ‘n nadeel vir die samelewing inhou. As bewys vir sy argument verwys hy terug na al die kruistogte en geweld, wat veral Christene in die geskiedenis gepleeg het. Hy verwys na enkele gevalle waar gelowiges selfs met mekaar in konflik beland het, soos die Protestante en Katolieke in Ierland. Hitchens is nie die enigste persoon wat sulke sienings huldig nie. Vandag hoor ‘n mens sulke taal by baie sekulêre mense, soos Dan Barker, Bill Maher, Sam Harris, Richard Dawkins en nog baie ander.


Die groot vraag is: is dit waar?


Iemand wat dieselfde vraag vir haarself afgevra het, was Rebecca McLaughlin. Sy het ‘n Ph.D-graad by Cambridge in Engelse letterkunde behaal en wou vasstel of Hitchens en sy vriende reg aangaande geloof was. Met ander woorde, bevestig die nuutste navorsing en geleerdheid hierdie siening van sommige ongelowiges, of is daar ‘n ander verhaal te vertel? Haar ontdekking was dat geloof, en veral geloof in Jesus, een van die beste dinge vir enige gelowige asook vir die breër samelewing is.


Ten eerste het sy vinnig besef dat ‘n mens nie geloof kan afskiet op grond van sommige onvolwasse Christene, wat geloof ‘n slegte naam in die geskiedenis gegee het nie. Die rede is dat ‘n mooi beweging, soos die Christelike beweging, altyd lede sal oplewer wat die beweging vir hulle eie gewin sal misbruik. Dis dan maklik vir sulke mense om geweld in die naam van Christus te bedryf. Ander goeie dinge is ook al so misbruik. Baie lelike en ellendige dinge is in die naam van goeie sake, soos welsyn, besigheid en sport gedoen. Dit beteken tog nie dat daardie dinge nou nie meer geldig is nie.

Tweedens het McKloughlin besef dat baie Jesus-volgelinge, nou sowel as in die verlede, geweld gepleeg het, omdat hulle eenvoudig die evangelie en die Bybel verkeerd verstaan het.


Derdens het haar navorsing uit allerlei akademiese dissiplines gewys dat om volgens die geloofsbeginsels van Jesus te leef, mense beter en gelukkiger maak. Sy het die volgende realiteite ontdek:


1. Dis régtig lekkerder en beter om te gee as om te ontvang. (Hand 20:35) Selfs nie-geestelike studies wys dat gelowiges meer vrygewig is as mense wat nie glo nie en dit gee hulle ‘n geweldige stuk selfvervulling.

2. Geldgierigheid stel diep teleur, nes die Bybel sê. Sedert 1972 het die inkomste per capita in die VSA meer as verdubbel, terwyl persoonlike geluk drasties afgeneem het.

3. Werk raak lekker, wanneer dit ‘n roeping is. Navorsing wys dat om vir ‘n inkomste te werk, mense uiters onvervuld laat. Wanneer iemand egter werk toe gaan vanuit die verstaansraamwerk dat daar Goddelike betekenis aan hulle werk gekoppel word, dan kan werk, selfs onder die moeilikste omstandighede, verduur en selfs geniet word. Mense het betekenis nodig in hulle werk en God voorsien dit vir mense.

4. Ons kan werklik gelukkig wees in alle omstandighede, selfs al is dit haglik. ‘n Harvard-professor, Daniel Gilbert, praat van die “sielkundige immuniteitstelsel” van die mens, wat veroorsaak dat mense merkwaardig goed by slegte omstandighede kan aanpas, veral as dinge soos geloof, hoop en liefde inspeel op hulle lewens.

5. Dankbaarheid is gesond vir ons, net soos Paulus ons leer. Sielkundiges beweer dat dankbaarheid en om ‘n dankbaarheidsjoernaal te hou, die “forgotton factor in happiness research” is.

6. Selfbeheersing en volharding maak ons beter en help ons om suksesvol te wees. Passie, selfbeheersing en volharding is meer bepalend vir iemand se vervulling en sukses, as selfs emosionele intelligensie, gesondheid of logiese intelligensie.

7. Vergifnis is fundamenteel aan die beleef van vreugde. Martin Seligman, die voormalige voorsitter van die Amerikaanse Sielkundige Vereniging, beweer in sy boek, Authentic Happiness, dat ‘n mens nie kan gelukkig wees sonder om te leer vergewe nie.


As ons maar net wil vertrou dat die Here die beste vir ons in gedagte het, wanneer Hy ons roep om Hom te volg. Hy sê (Joh. 7:17):


“As iemand gewillig is om die wil van God te doen, sal hy weet of hierdie leer van God af kom...”


Ons wil altyd eers weet of iets waar is, voordat ons onsself daaraan toewy. Jesus sê dit werk andersom. Vertrou Hom eerste en volg Hom en jy sal sien dat Sy woorde beide waar en goed is. Dan sal jy sien dat die lewe vir jou begin werk.


En jy sal weet dat Jesus is reg.

bottom of page