Dubbele burgerskap
top of page

Dubbele burgerskap


Alet Gardner skryf in haar nuutste artikel vir ekerk oor hoe ons as Christene dubbele burgerskap kan hê.
Dubbele burgerskap

Terwyl Brink net oor die twintig jaar gelede heen en weer gevlieg om ‘n besigheid in die VK te vestig, het ‘n Britse medepassasier op die vlug van Johannesburg na Londen teenoor hom opgemerk:

“Never lose your accent. South Africans are known for their diligence.”

Dit was nodig vir ons om sak en pak Engeland toe te verhuis om die nodige aandag aan die besigheid te kon gee. Met slegs tydelike vergunning om hier te kon woon en werk, was dit elke keer by die doeane ‘n redelike spanningsvolle geleentheid. Hierdie persoon het die reg gehad om ons toegang te weier. So voel dit soms om as Christen in ‘n post-Christelike gemeenskap te moet funksioneer. Veel erger nog is daar talle Christene, wat aan diskriminasie en vervolging blootgestel is, omdat hulle nie die korrekte geloofs-“paspoort” het nie.


Twintig jaar later het Brink en ek die voorreg van dubbele burgerskap, maar het steeds nie die aksent verloor nie. Ons het intussen ook agtergekom dat daar ‘n hele paar kultuurverskille is. Suid-Afrikaners bring onder andere ‘n hartlike gasvryheid na hulle nuwe blyplek in die meer gereserveerde Britse kultuur, waarin ons ons bevind. Ons is ook geneig om meer reguit en soms harder as ons Britse genote te praat.


Net so kan ek, wanneer ek kies om my lewe deurlopend onder beheer van die Gees van Christus plaas, die Koninkryk se kultuur van liefde, respek, geduld, omgee, blydskap, dankbaarheid en vrede indra in die Godlose post-Christelike gemeenskap, waar ek my bevind. Dis nie altyd maklik nie, ons kry nie altyd aanvaarding nie, maar word soms gespot of vermy, omdat ons “anders” is. Dis net hier waar ek nodig het om my oë op Jesus Christus by die hemelse wenpaal te hou (Hebreërs 12:1-3), om soos Hy te onthou wie ek is, waar ek vandaan kom (wie my gered en geroep het) en waarheen ek op pad is (Johannes 13:3). Ek mag trots-dankbaar wees oor my roots en my dubbele burgerskap met verantwoordelikheid dra én dalk op die koop toe ontdek dat ek geestelike familie onder my Britse bure en kollegas het.


bottom of page