Doen ook daardie tweede 50%
top of page

Doen ook daardie tweede 50%


.In hierdie Goeie Nuus staan Stephan Joubert stil by Spreuke env ra hoe ons daardie tweede 50% kan doen.
Doen ook daardie tweede 50%

Spreuke is nie slegs mooiklinkende waarhede nie. Vat maar Spreuke 10-15 se 183 verse. ’n Volle 163 hiervan is teenstellings. Hierdie 163 verse werk met twee teenoorgestelde waarhede en twee maniere van leef. In gewone taal: “’n Dwaas maak só, maar ‘n wyse mens maak só.” Ons is goed daarmee om die eerste kant raak te sien, dwase en skelms s’n. Saam met Spreuke 10 se eerste kant, weet ons baie goed dat dwase se oorhaastige woorde moeilikheid bring (Spreuke 10:14). Of dat dit lei tot woede en sonde (Spreuke 10:19, 32). Om egter net hierop te fokus, is nog nie wysheid nie. Wysheid gaan juis oor die tweede kant. Wyse mense sien dwaasheid raak, maar praat dan met insig. (Spreuke 10:14a) Hulle sien dwase praat oorhaastig, maar tel hulle eie woorde (10:19b en 32a).


Vir Spreuke gaan die lewe oor teenstellings tussen dwaasheid en wysheid. Die regte manier van leef voor God gaan oor die reg-doen-kant. Wysheid vra dat jy nie heeltyd jou bloeddruk opwerk oor alles wat verkeerd is nie. Dit vra dat jy elke slag raaksien hoe wyses in sulke situasies optree. Jyself kies ook om met wysheid te leef. Te midde van dwase en skelms leef jy eerlik. Jy vrees die Here, help armes en jy praat met insig. Jy leef wys. Jy leef daardie tweede 50%.

bottom of page