Dis nie hoe hard jy kan slaan nie
top of page

Dis nie hoe hard jy kan slaan nie


Ek het groot geword in die tyd toe die baie gewilde Rocky-flieks op die skerms was. Ek was ‘n die hard fan. Ek was ‘n fan, nie omdat die prente van geweldige hoë Oscar-gehalte was nie. Ek was ‘n fan, omdat dit een belangrike lewenstema altyd baie goed uitgebeeld het, naamlik waagmoed of dapperheid. Rocky was in elke fliek in ‘n moeilike situasie, wat hy nog nooit vantevore beleef het nie. Sy dreigende nuwe opponent was altyd beter, harder, taaier en meer intimiderend as die voriges. Dan moes hy altyd met die besluit worstel of hy moet voortgaan, sy opponent die hoof moet bied of liewer die veilige roete volg en sy bokshandskoene ophang. Gewoonlik het Rocky dan uiteindelik sy eie kwesbaarheid openbaar deur die vrese met sy vrou, seun of afrigter te deel.


In die sesde Rocky-fliek, Rocky Balboa, beleef hy ‘n bietjie verhoudingspanning met sy tienerseun, Bobby. Sy vrou lewe op hierdie stadium in die storie nie meer nie en kon dus nie die konflik tussen die twee mans in die huis ontlont nie. Op ‘n gepaste oomblik is Bobby egter oop vir ‘n gesprek met sy pa en gesels hulle mooi met mekaar. Rocky deel so ‘n bietjie lewenswysheid vanuit sy loopbaan as ‘n bokser. Hy sê:


Life is not all rainbow and roses. The world is a mean, nasty place and I don’t care how tough you are, it will beat you to your knees and it will keep you there permanently if you will let it. Not me or anybody is going to hit as hard as life, but it ain’t about how hard you can hit. It’s about how hard you can get hit and keep moving forward, how much you can take and keep moving forward.

Dis nie hoe hard jy kan slaan nie, dis wat jy kan verduur, steeds voortbeur en die regte ding doen, steeds ‘n gesonde lewe leef.


Ons sien hierdie lewensbeginsel teenwoordig in die woorde van Jesus, wanneer Hy sê: Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê, maar hou moed. Ek het die wêreld klaar oorwin. Hoe bring Jesus vrede by Sy dissipels? Hoe help Hy hulle (en ons) cope met die lewe?

In hierdie teksvers doen Hy twee dinge. Eerstens waarsku hy hulle, soos Rocky sy seun: Die lewe sal hard slaan. Verwag moeilikheid. Dit sal so wees. Moenie skrik wanneer drama, lyding of verskrikking by jou deur opdaag nie. Moenie bang wees nie. Moenie ontnugter word nie. Moenie jou geloof verloor nie. Behou jou vrede. Mense, wat dit nie verwag nie, sal ontnugter en verwar word, want dit pas nie by hulle prentjie van God, geloof en lewe in nie.


Dis dan tog vir my vreemd, wanneer so baie gelowiges onkant gevang word, nie eers altyd deur swaar lyding nie, maar sommer deur klein rykmansprobleempies, soos beurtkrag, die verkeer, die Proteas, wat verloor, gerugte van ekonomiese onstabiliteit in die toekoms, die hekmotor, wat oppak, die begroting, wat ‘n bietjie sukkel vanweë swak verbruikingsgewoontes en nog baie meer. Dit beteken nie dat ons nie empaties met mekaar moet wees nie. Ons moet mekaar, selfs in hierdie kleiner menslike probleme, bystaan, vertroos, mekaar se laste dra, vir mekaar bid en vir mekaar opoffer. Maar ons moet mekaar ook daaraan herinner dat al hierdie dinge, wat verkeerd loop, nie beteken dat die wiele van die lewe afkom nie. Nee, Jesus het die moeilikheid jare gelede reeds tydens Paasnaweek oorwin. Dis waarom ons nie pessimisties en negatief raak nie, al verwag ons moeilikheid.


Dit is Jesus se tweede punt in die teks. Ek het die lewe gewen, sê Hy. Ek het al die moeilikheid met ‘n uitklophou uitgehaal. Ek het deur die grootste moeilikheid denkbaar, die dood, in jóú plek gegaan. Ek het hierdie einste dood, jou grootste vyand, gewen. Ek skenk my oorwinning vir jou. Dis jóúne, verniet. Daar wag ‘n blink toekoms saam met My op jou. Ek los jou nie. Ons is saam, Ek en jy. Ons doen die lewe saam.


Die Lewenskampioen stap elke tree saam met jou, al slaan die lewe ook hoe hard.

bottom of page