top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Hoe skep leiers groeiende organisasies?


Ons het voorheen gepraat oor die verband tussen leierskap en lerende organisasies (learning organizations). Leiers skep maatskappye, wat groei in insig, wysheid en vaardigheid. Gemeentes is veral veronderstel om lerende entiteite te wees. Hierdie organisasies skep kulturele omgewings waar leer, ontwikkeling, groei en innovasie spontaan plaasvind. Toe het ons na die gevaar van leergestremdhede in ‘n organisasie gekyk. Dis daarom fundamenteel om te vra hoe leiers hierdie omgewings skep. Wat is die belangrike elemente, wat deel is van hierdie soort organisasies?

Peter Senge praat van vier “dissiplines”, wat onder andere gehandhaaf moet word vir die ontwikkeling van sulke organisasies:


1.    Persoonlike Selfbemeestering

Selfbemeestering is meer as blote bekwaamheid of vaardighede, alhoewel dit in vaardighede begrond word. Dit gaan oor die verbreding van die vermoë om die uitkomste, wat vir ons belangrik in die lewe is, te produseer. Dit is soos ‘n pottebakker, wat homself dag in en dag uit dissiplineer om te oefen om die klei na die beste uitkoms te vorm. Vir die mees blywende uitkoms is hierdie aanhoudende oefenproses op persoonlike, sowel as professionele vlak nodig. Dis nodig op individuele, sowel as korporatiewe vlak. Dis, aan die een kant, op ‘n bewustheid van ‘n duidelike visie gebou van waar ons as groep onsself in die toekoms sien. Aan die ander kant staan dit in ‘n stryd met wat die huidige realiteit is. Die dissipline van selfbemeestering is die strategie, wat ons as organisasie neem van die huidige na die toekomstige neem. In ‘n geloofskonteks sou ons kon sê dis die wilskrag en die keuse om onsself in toewyding aan God te oefen, totdat ons die beeld van Christus reflekteer (1 Tim. 4:7). Senge beweer dat dit in ‘n maatskappy baie soos in godsdiens werk, naamlik dat ‘n leerkultuur geskep word, waar bemeestering in die beginsels en waardes van die maatskappy, daagliks in persoonlike lewens uitgeleef word.

 

2.    Die Regte Denkraamwerke

Dit gebeur heel dikwels dat uitmuntende strategieë, waar ure aan ontwikkeling spandeer is, uiteindelik geen noemenswaardige vrug lewer nie en op niks uitloop. Hierdie vrugteloosheid gebeur nie, omdat daar slegte bedoelings of luiheid is of omdat die plan korrup is nie, waar wel as gevolg van bepaalde, onbewuste denkraamwerke in die harte van die mense. Die nuwe strategiese plan en die insig, wat dit verteenwoordig, kom in konflik met diep onderliggende, interne  en onbewuste beelde van hoe mense dink die wêreld werk. Die bestuur van mense se denkraamwerke is dus fundamenteel belangrik vir die skep en ontwikkeling van lerende organisasies. Dit impliseer geensins dat mense gemanipuleer word nie. Inteendeel. Hierdie denkraamwerke, wat groei keer, is gewoonlik toksies en onakkuraat wat algemene lewenswysheid betref. Die idee is dus om gesonde, lewegewende perspektiewe te kweek deur modellering en lering. Senge praat van incubating a new business world view.

 

3.    ‘n Gedeelde visie

Mense leer nie op ‘n kollektiewe of massa-skaal, indien hulle geen gedeelde visie het nie. Senge vertel die storie van Spartacus, die slawerebel, wat ‘n opstand gelei het en in 71 v.C. deur die Romeinse generaal, Marcus Crassus, oorrompel is. In die fliek, met dieselfde naam, word gewys hoe dat Crassus die slawe voor die veldslag toespreek. Hy beweer dat hulle almal weer gevange geneem gaan word, maar dat hulle en hulle families se lewens gespaar sal word, indien hulle Spartacus, die leier, sal uitlewer. Aangesien geen Romein geweet het hoe die slaweleier lyk nie, was hulle uitkenning van hom afhanklik daarvan dat hy uitgelewer moes word. Volgens die 1960-fliek staan Spartacus toe self op om homself oor te gee en sê: I’m Spartacus. Die soldaat langs hom staan toe ook op en sê: No, I’m Spartacus. Een na die ander staan die soldate toe op, totdat die hele slaweweermag op hulle voete is met die woorde I’m Spartacus. Senge se punt is dat die weermag nie hierdie geweldige toewyding bloot as gevolg van hulle verbintenis met Spartacus self gehad het nie, maar as gevolg van die gedeelde visie, wat hy in hulle geïnspireer het. ‘n Visie, wat gedeel word, is uiters kragtig en kan veroorsaak dat ‘n korporatiewe, lerende kultuur vinnig ontstaan. Dit ontstaan, omdat die gedeelde visie ‘n gedeelde omgee veroorsaak. Omgee vir die toekoms, omgee vir die gemeenskap, die maatskappy, omgee vir die menslike lewens, wat dit kan verander en  vernuwe.

 

4.    Spanleer

‘n Gedeelde visie lei tot gedeelde leerprosesse. Alan Hirsch praat van collective genius. Mense leer beter by mekaar as alleen. Die opvoedkunde praat weer van interaktiewe leer. Dis ook baie duidelik uit die lewe van Jesus. Jesus het selde dissipels gemaak sonder dat groepe mense rondom Hom was. Soms was dit net Hy en nog een of twee ander. Ons dink wel aan individuele gesprekke van Jesus met mense soos Nikodemus en Petrus, maar dit was baie selde. Wat Hy nooit gedoen het nie, was om mense huis toe te stuur om alleen te gaan leer. Nee, Hy het dissipels in groepe geleer. Daarom het organisasies, geloofsgemeenskappe en gemeentes die beste omgewing en kans om diep dimensies van leer te laat plaasvind. Individuele uitmuntendheid is wel belangrik, maar dit gaan uiteindelik oor hoe goed die groep kan saamwerk.


Gemeenskappe, wat saam leer, transformeer saam. Hulle transformeer die wêreld saam. Jesus gee die bevel aan Sy volgelinge om dissipels van die nasies te maak. ‘n Dissipel is ‘n leerling, ‘n leerder. Dink net aan die impak wanneer leiers gemeenskappe en besighede en gemeentes kan skep, wat lerend van aard is. Om saam te leer om mense lief te hê en samelewings te verander, dit was Jesus se visie. Dit geld nie net vir die kerkleiers nie, maar vir enige Jesus-leier in enige organisasie.

Comentarios


bottom of page