Die regte mense kom ook in geskenkpapier
top of page

Die regte mense kom ook in geskenkpapier


Die regte mense kom ook in geskenkpapier

Wanneer mens oor die Gees en Christus se werk nadink, dan staan jy gedurig verstom. Veral wanneer jy in ‘n teks soos Efesiërs 4:7-16 vasloop, want hier vertel Paulus van Christus se triomftog. Nadat Hy hier op aarde getriomfeer het, het Hy Sy oorwinningstog in die hemel voortgesit. As bewys van Sy oorwinning het Jesus onder andere geskenke aan ons uitgedeel. Maar die mees verrassende van hierdie geskenke, wat Hy uitgedeel het, is dat dit mense is, nie dinge nie. Ons dink meestal aan geskenke as dinge, wat ons kan eet, beluister, bespeel of aantrek. Maar vir God is Sy vernaamste geskenke lewende mense. As deel van Jesus se oorwinning deel Hy apostels, profete, evangeliste, herders en leraars aan Sy mense uit.


As ons die geskenkpapier rondom God se gawes afhaal, dan tref ons mense hieronder aan, mense wat die kerk moet dien deur hul leierskap, onderrig, visie, geestelike versorging en deur die uitdra van die evangelie. Hulle is die oorwinnende Christus se lewende, bewegende, pratende, dienende geskenke aan alle gelowiges, jou inkluis. Dit is hierdie leiers, wat geroep is om die liggaam van Christus op aarde te dien. God hou Sy kerk in stand deur die Gees en Hy rus op Sy beurt weer gewone mense toe om die kerk in die waarheid te lei. Kom ons dank Hom vir Geesvervulde leiers, wat hul roeping getrou uitleef.


Gebed:

Geloofd sy u Naam, omdat U ons ook versorg en dra deur mense, wat U toerus vir hierdie werk, Here. Amen.

bottom of page