Vanaf verveeld tot gelowig
top of page

Vanaf verveeld tot gelowig


Die strokieskat, Garfield, is bekend vir al sy spitsvondighede. In een strokie sê sy eienaar, Jon Arbuckle, hyself is met sy lewe verveeld. Dan dink Garfield hy is ook verveeld met Jon se lewe! Verveeldheid is volop. Amper niemand kan meer vir vyf minute lank net stilsit sonder om hulle selfone te gryp en iets op sosiale media te soek om hulle verveeldheid aan te spreek nie. Verveeldheid tref selfs al vir jong kindertjies, wat gedurig met hul selfone sit en speel aan etenstafels, in eredienste en tussen hulle maats.


Verveeldheid is nie maar net ’n moderne probleem nie. In Handelinge 17:21 lees ons van ’n groep inwoners van die stad Athene, wat doodverveeld met die lewe geraak het. Hulle het al hulle tyd deurgebring om nuwighede op te soek en om sarkastiese dinge oor alles en almal rondom hulle kwyt te raak. Van vroeg tot laat het hulle uit die hoogte geluister na al die nuutste dinge, wat aan hulle opgedis is. Toe hierdie verveelde inwoners van Athene dus van Paulus se nuwe evangelie gehoor het, wou hulle ook na hom luister. Dalk was dit nog iemand, wat hulle eie verveeldheid vir ’n wyle kon verdryf. Sommige van hulle denkers het Paulus alreeds afgemaak as iemand wat nonsens praat. Paulus het hierdie kans aangegryp. Hy het aangesluit by die Atheners se beheptheid met nuwe gode om hulle eie verveeldheid met die lewe aan te spreek. Toe vertel hy vir hulle van die onbekende God, vir wie hulle ook ’n standbeeld opgerig het. Sy helder getuienis oor Christus net hierna het ’n paar skokgolwe veroorsaak. Te midde van ’n klompie mense, wat hom nogmaals afgelag het, is ander se verveeldheid daardie dag met ’n onbeplande bekering en ’n opwindende nuwe geloof in die Here vervang. Wat ’n getuienis! Die evangelie van Christus troef alles, ook mense se verveeldheid. Mag jyself dit opnuut ervaar.


bottom of page