Die Here stel nie swaarkrytoetse op nie
top of page

Die Here stel nie swaarkrytoetse op nie


Mense sê graag die Here gebruik slegte omstandighede om hulle te leer om meer afhanklik van Hom te wees. Maar is dit korrek? Doen die Here dit regtig? Ten minste leer die Bybel ons dat slegte omstandighede nie deur die Here veroorsaak word bloot net om sekere lesse vir ons te leer nie. Anders gesê, slegte dinge is nie God se skuld nie. Ons kan nie die vinger na Hom toe wys, as die lewe vol toetse en versoekings is nie. Jakobus 4 leer pertinent dat sulke slegte dinge deur mense veroorsaak word. Jaloesie, gierigheid, woede, haat - sulke emosies, wat in mense se harte geberg word, veroorsaak dat hulle bose dinge aanvang. Anders gestel, bose mense pleeg bose dade, soos moord, oorlog, diefstal, bedrog, owerspel… Dit is nie God, wat sulke slegte dinge veroorsaak nie. Tog leer Jakobus 1 ons dat God tog ook kyk hoe ons al die toetse hanteer wat die lewe oor ons pad bring. Laat ons toe dat swaarkry, teenstand en vervolging ons onderkry? Veroorsaak sulke dinge dat ons ons geloof verloor, of laat dit ons nog meer op die Here vertrou?


Jakobus 1 en Jakobus 4 maak dit glashelder dat God nie die opsteller is van al die slegte toetse, waarmee die lewe ons belas nie. Hy het regtig nie nodig om sekere lesse vir ons deur sulke toetse te leer nie. Hiervoor het Hy Sy Heilige Gees aan ons gegee om ons in die volle waarheid te lei. Dit is die Gees, wat ons lei om gehoorsaam aan Hom te wees, nie swaarkry en moeilikhede nie. Toetse is nou maar eenmaal deel van hierdie harde lewe. Dit tref almal van ons. Maar die Here kyk tog of ons sulke toetse deurstaan. Hy wil sien of ons getrou bly aan Hom, wanneer slegte dinge ons pad kruis en of ons nog meer vasberade in Hom glo. Doen dit asseblief! Slaag elke toets in die naam van Christus.

bottom of page