Die Gees bid
top of page

Die Gees bid


Lees Matteus 6:9

 

Die Gees is die Een, wat ons innerlike lewe Godwaarts rig. Hy doen dit deur ons intiem aan God te verbind. Hy plaas daardie diepe hunkering na God, wat net nooit ophou nie, in ons harte. Die Gees maak van ons gebede lewenskragtige gesprekke met God wat groot vrug oplewer. Hy rig ons gedagtes op God se grootheid en heiligheid en leer ons om Hom ook in ons gebede heeltyd te verheerlik. Die Gees dra ons aanbidding en voorbidding persoonlik tot in die hemelse troonsaal, waar dit by die stemme van die hemelse leërskares gevoeg word. Hy sorg dat ons stem gehoor word daar waar dit saak maak - by God se troon!

 

Gebed is nooit ’n manier om God se arm te probeer draai, totdat ons ons sin kry nie. Nee, mense wat onder lewenslange konstruksie van die Heilige Gees is, leer om gebed as ’n tweegesprek met God te sien. Hulle weet dat gebed by Sy hemelse bouplan vir die wêreld moet inskakel. Daarom aanvaar hulle dit as God partykeer vir hulle nee sê. Maar terselfdertyd verwag hulle ook groot dinge van hulle groot God. Hulle bly op die uitkyk vir gebedsverhoring en bring aan God al die eer vir elke wonderwerk, wat Hy in hulle lewe verrig. Laat die Gees daarom toe om vandag Sy bidwerk in en deur jou te volvoer.

 

Gebed:

Baie dankie dat U ook vir my bid, Gees van God. Amen.

bottom of page