Die dwaasheid van die kruis is God se krag
top of page

Die dwaasheid van die kruis is God se krag


As ekself ’n godsdiens moes uitdink, sou ek definitief nie die Christelike geloof uitgedink het nie. Jesus se aardse pad is net te vreemd, te vernederend, en te anders as dié van enige ander godsdiens. Paulus besef dit baie goed wanneer hy in 1 Korintiërs 1:18-25 skryf die kruis van Jesus is dwaasheid vir die Grieke, en aanstootlik vir die Jode. Die Grieke het geweet hulle gode kan eintlik nie ly onder hulle nie. Hulle gode is net te sterk en vol glorie. Die Jode weer het gemeen die Messias vol eer sou wees wanneer hy verskyn. Hy sou Israel bymekaar maak en boonop ook die Romeine in die see injaag. Maar toe daag Jesus hier op in nederige omstandighede. Sy eerste aardse bed was ’n voerbak. Sy opgroei-plek was Nasaret, ’n vergete Galilese dorp. Sy volgelinge was doodgewone mense. Uiteindelik is Jesus soos ’n misdadiger gekruisig in Jerusalem, daar in die hartland van Israel se godsdiens. Nogtans gebruik God hierdie dwaasheid van die kruis (1 Korintiërs 1:18) om Sy krag en genade te openbaar. Vandag nog is die “swakheid” van Christus sterker as al die slimmighede van die mensdom. Vandag nog is die kruis ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.

bottom of page