Dankbaarheid - die kern van ‘n Christen se lewe
top of page

Dankbaarheid - die kern van ‘n Christen se lewe


“Moenie vergeet om altyd vir God, die Vader, baie dankie te sê vir alles nie. Doen dit omdat julle aan Jesus Christus behoort en Hy julle in staat gestel het om dit te doen.” (Efesiërs 5:20 DB)

 

Om altyd dankbaar te wees, klink nie na ‘n maklike opdrag nie. Vriende vertel dat hulle onlangs by ‘n vriendin gekuier het, toe die skokkende nuus deurkom dat haar skoonseun sy eie lewe geneem het. Te midde van die skok en hartseer kon die vriendin getuig hoe dankbaar sy is dat, ten spyte van jare se onmin, sy en die jongman kon vrede maak en tot en met sy dood ‘n goeie verhouding kon hê. 

 

Wanneer ek in ‘n lewende verhouding met die Here staan en gereeld tyd in Sy teenwoordigheid in die Bybel spandeer, ontdek ek kosbare beloftes, wat dit vir my moontlik maak om dankbaar teenoor Hom te wees, te midde van krisisse en teleurstellings. Dan kan ek vashou aan die belofte: “God laat alles ten goede meewerk vir hulle wat Hom liefhet…” (Romeine 8:28 NLV). Ek kan veral aan die belofte vashou dat Hy my nooit in die steek sal laat nie (Hebreërs 13:5).

 

In die normale gang van sake is daar so baie om voor dankbaar te wees en soveel seëninge, waarvan ek nie eers meer bewus is nie - totdat ek dit verloor. Die grootste rykdom lê ook soms in die nie-materiële seëninge, soos die gawe van reuk, smaak, sien, ‘n drukkie van ‘n geliefde.


Om dankbaarheid lewendig te hou, moet ek myself voortdurend aan alles waarvoor ek dankbaar kan wees herinner: om in die oggend te kan opstaan en heel eerste dankie te sê vir hierdie nuwe dag. “Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees” (Psalm 118:24, AFR83), om dankie te kan sê vir my familie of gesondheid of wat ek ookal ontvang het, om dit raak te sien en te sien dat dit goed is en om God daarvoor te eer. Dit is God se wil dat ons dankbaar sal wees: “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag." (1 Tess 5:18 AFR83).

Alle dankbaarheid begin by God – Hy staan aan die hoof daarvan. Sonder Hom is dankbaarheid net nog ‘n houding of geestelike oefening en nie ‘n lewensingesteldheid nie. Dankbaarheid vereis ook 'n diepe begrip van die rede waarom ek dankbaar is. Dit begin met my besef van wat Jesus vir my aan die kruis gedoen het en eindig waar God deur die Heilige Gees in my woon. Wanneer ek die grootheid van die geskenk, wat ek met Sy kruisdood ontvang het, besef, vorm dit die basis van hoe ek voortaan dankbaarheid sien en beleef. Dit is die bril waardeur ek dan na die lewe kyk.

 

Om ‘n dankbare hart te hê, is lewensveranderend. Dan kan ek verby die dinge kyk wat vir my moeilik is, kan ek God se oorvloedige seën raaksien en ‘n dankbaarheidslewe lei.

bottom of page