Dankbaarheid is lewensveranderend
top of page

Dankbaarheid is lewensveranderend


Elmarie van der Westhuizen gesels in haar nuutste artikel vir ekerk oor die belangrikeid van dankbaarheid in ons geloofslewens.
Dankbaarheid is lewensveranderend

Die boek, The Salt Path, vertel die ware verhaal hoe die Engelse skryfster, Raynor Winn en haar man, 630 myl op die South West Coast Path van Somerset tot in Dorset gestap het. 'n Slegte besigheidsbelegging jare tevore in 'n maatskappy, wat aan 'n vriend behoort, het teruggekom om by hulle te spook en hulle was saam met die besigheid vir groot skuld aanspreeklik gehou. Op die oomblik toe die lewe makliker moes word, is hulle bankrot verklaar, met net £115 in die bank.

En toe, op die ouderdom van 50 en 53 verloor die paartjie hul plaas, wat hul liefdevol opgebou het, asook hulle enigste inkomste. Die dag voordat hul finaal van die plaas af is, hoor haar man dat hy ‘n terminale degeneratiewe siekte het.


In die boek word die leser gekonfronteer met die ontberings van die skryfster en haar man, terwyl hulle in reën, wind en son stap, die neerhalende houding van mense wanneer hulle hoor dat hulle haweloos is, hoe hulle hul tent in die veld moet opslaan, omdat hulle nie genoeg geld het vir ‘n kamppeerterrein nie, maar sy noem ook die dankbaarheid vir luukshede, soos ‘n warm stort, ‘n spoeltoilet, warm slaap in die nag, skoon klere. Hoe hulle lewensuitkyk verander deur dankbaarheid vir ‘n sonsondergang, die reuk van die see en fynbos, die onverwagse hulp van vreemdelinge.


Dit daag die leser uit om weereens te besef hoeveel ons het om voor dankbaar te wees en hoeveel seëninge ons nie eers meer van bewus is nie. Baie mense op aarde het nie daardie “luukshede” wat ons as vanselfsprekend aanvaar nie. Ons besef nie altyd hoe baie ons het om voor dankbaar te wees voordat ons dit nie verloor het nie. Dit is ook in die nie-materiële seëninge, wat soms die grootste rykdom lê, soos die gawe van reuk, smaak, sien, ‘n drukkie van ‘n geliefde, ens.


Om ‘n dankbare hart te hê is lewensveranderend. Dan kyk ek verby die dinge, wat vir my moeilik is en sien ek God se oorvloedige seën raak. Dit word ‘n manier van lewe, waar dankbaarheid die kern van my lewe word. (“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” 1 Tessalonisense 5:18, 1983 Vertaling)


Om dankbaarheid lewendig te hou moet ons onsself voortdurend herinner aan alles waarvoor ons dankbaar kan wees. Om te kan opstaan in die oggend en heel eerste dankie te sê vir hierdie nuwe dag. Om dankie te kan sê vir my man/kind/gesondheid of wat ek ookal ontvang het – om dit raak te sien en te sien dat dit goed is. Om God daarvoor te eer.


"Gratitude unlocks the fullness of life. It turns what we have into enough and more. It turns denial into acceptance, chaos to order, confusion to clarity. It can turn a meal into a feast, a house into a home, a stranger into a friend."

Melody Beattie


bottom of page