Hulp in ons swakheid
top of page

Hulp in ons swakheid


Lees Romeine 8:26

 

Miskien het jy ook al partykeer gevoel of jou gebede teen die dak vasslaan. Paulus ken hierdie gevoel. Hy vertel in Romeine 8:26 dat hy ook nie altyd mooi geweet het wat hy moes bid nie. Gelukkig het hy op ’n dag ’n baie belangrike geestelike les oor die werk van die Gees in sulke tye geleer. Die Heilige Gees kom kyk in ons swaarkrydae wat in ons harte aangaan. Hy neem dan al daardie dinge, wat ons nie in woorde kan sê nie, op eie stoom na God se troon toe. Die Gees tree dan as ons advokaat by God op. Hy sorg dat dinge soos ons swaarkry, ons biddeloosheid en ons worstelinge op die belangrikste plek in die heelal vermeld word. Die Gees gaan stel ons saak daar voor die Vader. Hy vertel vir Hom van al die seer in ons harte, van ons eensaamheid, ons stryd om heiliger te lewe.

 

Dis fenomenaal om te dink dat ons grootste swakheid in ons geloofsmondering ook deur die Gees ondervang word. Hy help ons in die midde van ons swakheid deur te doen wat ons dan nie kan doen nie, naamlik om vir ons te bid. Hy los ons nie alleen as ons op gebedsverlies se vlakte beland het nie. Dan luister Hy nie net na al die groot bidders nie. Inteendeel, dan draai Hy af na ons toe om ons te ondersteun en ons saak by God te stel.

 

Gebed:

Bid vir my, Gees van die Here, want ek is te swak. Amen.

 

bottom of page