Maak tee vir Christus!
top of page

Maak tee vir Christus!


Een van die grootste lesse van my lewe het ek as ‘n jong outjie by ‘n kerklike kongres geleer. ‘n Klompie belangrike sprekers het ons oor nuwe maniere van kerkwees toegespreek. Tussendeur het ‘n vriendelike tannie elke dag vir ons almal daar by die kongres tee gemaak. Op die laaste dag gaan sê een van my vriende toe vir haar dankie. Haar antwoord het hom (en my) skoongeboul: “Ag Meneer, ek het net een gawe by God ontvang en dis om lekker tee te maak. Daarom maak ek oral vir mense tee met die liefde van my Heer.”


Daar op die plek het ek geweet dat ek in die teenwoordigheid van een van die grootstes in die koninkryk van God staan. Hier was iemand wat haar gawes onselfsugtig in diens van die Here se mense gestel het. Sy het die werk van die Gees beter as ons almal verstaan. Nee, dit was toe nie al die beroemde sprekers daar binne in die konferensiesaal, wat met die louere weggestap het nie, maar hierdie liefdevolle tannie met die teekoppies in haar hand! Sy was die grootste, want sy het ons almal sonder enige voorbehoude met die liefde van die Here gedien. Sy was agter in die ry. Daarom was sy toe al die tyd eerste in Jesus se oë. Ek so wil graag meer soos daardie tannie wees!


Gebed:

Here Jesus, leer my om ook agter in die ry in te val en ander te dien. Amen.

bottom of page