Onderskei tussen soorte leiers
top of page

Onderskei tussen soorte leiers



Een van ‘n leier se belangrikste take is om ander leiers te identifiseer, te bemagtig en te ontwikkel. Deur die jare beleef ek egter voortdurend ‘n frustrasie, wanneer mense praat oor leierskap en die ontwikkeling van leiers - dit is dat mense praat asof daar geen onderskeid is tussen soorte leiers nie. Leiers is nie almal dieselfde nie. Die soort leier, wat saam met jou werk, gaan bepaal watter soort leiding hy van jou af gaan nodig hê. In die tagtigerjare al het Bennis en Nanus in hulle boek Leaders onderskei tussen leiers en bestuurders. Kortliks het hulle die verskil so uitgewys:


Leaders do the right things.
Managers do things right.

Hiermee is bedoel dat leiers gewoonlik breër-prentjie-mense is, wat maklik die visie kan verkoop aan die mense saam met wie hulle werk. Hulle sal ook rigting kan aanwys en mense rondom daardie visie kan beïnvloed en verenig. Bestuurders, aan die ander kant, is mense, wat na die fyner detail kyk. Hulle kan die regte rigting inslaan, nadat dit vir hulle aangedui is en die pad na die vervulling van die doelwitte sekuur deur middel van struktuur en bestuursvaardighede navigeer.

Dis dalk effens simplisties, maar die idee was ten minste daar om te differensieer.

In 2001 onderskei George Barna tussen ten minste vier soorte leiers. Hierdie vier kategorieë is vandag nog geldig en is uiters noodsaaklik, wanneer leiers met ander leiers saamwerk. Dis ook van pas wanneer ‘n leier ander leiers as departementshoofde of bedieningsleiers moet aanstel.

1. Rigtinggewende leier


Hierdie soort leiers beskik oor besondere vaardigheid om ‘n aangrypende visie te kommunikeer, maar spandeer nie noodwendig hulle energie aan die detail van die proses nie. Hulle motiveer mense om deel te word van die proses en moedig hulle aan deur aan hulle ‘n prentjie van die moontlike toekoms, waarvan hulle kan deel wees, te skets. Hulle kan ook mense motiveer deur die moontlike rolle te skets wat daardie mense kan speel. Hierdie soort leiers is dus katalisators, wat mense se verbeeldings stimuleer. Hierdie leiers is dikwels goeie sprekers en effektiewe luisteraars.


Rigtinggewende leiers is ook goeie besluitnemers n.a.v. die feite, wat hulle versamel rondom ‘n sekere saak. Hulle kan baie keer ook besluite neem en optree op grond van ‘n intuïtiewe aanvoeling van wat die regte rigting is om in te beweeg.


Hulle swakhede is juis dat hulle nie altyd in die detail geïnteresseerd is nie en so laat hulle soms pap op die grond val. Geduld is nie altyd hulle sterk punt nie.


2. Strategiese leier


Hierdie mense is leiers, wat gewoonlik tevrede is om agter die skerms te werk en veral die verskillende opsies te identifiseer en te oorweeg wat die organisasie kan gebruik. Hulle is dikwels die mense, wat die gedetailleerde aksieplanne opstel, wat sal toesien dat die sleutelbehoeftes vervul word en die regte geleenthede aangegryp word. Hulle skep gewoonlik die praktiese metodes, waarvolgens die visie in aksie oorgeskakel kan word. Hierdie soort leiers analiseer gewoonlik die realiteit deur mense en situasies te evalueer, asook soms empiriese informasie bymekaar te maak. Hulle beskik ook oor die vermoë om objektief na dinge te kyk sonder dat emosies oral ingesleep word. Hulle is deeglik in hulle ondersoek van sake en vra die moeilike vrae, wat ander mense heel dikwels miskyk.


Strategiese leiers is nie altyd populêr nie. Omdat hulle op die syfers en feite fokus word hulle soms as koud en gevoelloos beleef. Hulle kan ook soms lank neem voor hulle tot hulle tot ‘n besluit kom, omdat hulle nog nie sekerheid het of oor al die nodige feite beskik nie.


3. Spanbouende leier


Waar rigtinggewende leiers die is wat lief is vir die energie, wat saam met visionering kom, en waar die strategiese leiers mal is oor die intellektuele proses van analiseer en beplan, fokus die spanbouende leier direk op die opbou van mense. Hulle primêre vaardigheid is om interaksie te hê met ‘n groot verskeidenheid van mense. Hulle laat almal voel dat hulle gehoor is, verstaan word en geliefd is. Hulle is goed daarmee om mense rondom die visie deur middel van verhoudingskonteks te mobiliseer.


Hulle is veral goed daarmee om spanne rondom die gemeenskaplike doel en rigting, wat aangegee word deur die rigtinggewende en strategiese leier, te bou.


In die meeste gevalle haat hulle egter papierwerk. Daar bestaan soveel staaltjies van hoe ‘n spanbouende leier skade aan ‘n maatskappy of strategie berokken het bloot net omdat hulle alles op papier (aksieplanne, begrotings, agendas) geïgnoreer het.


4. Operasionele leier


Operasionele leiers voorsien ‘n mate van stabiliteit, voorspelbaarheid en konsekwentheid aan die organisasie. Hulle fokus op die bedryfshandelinge van die maatskappy. Hulle skep nuwe geleenthede en oplossings, wat nodige deurbrake tot gevolg het. Hulle skep nuwe roetines, wat die bereiking van die algemene doel fasiliteer. Hulle mag soms onsigbaar voorkom, maar hulle bydrae is onontbeerlik. In die chaos, wat soms deur die ander leiers geskep word, is operasionele leiers die strukturele argitekte, wat nodig is om bediening effektief te maak en te laat vloei.


Soms vergeet hierdie leiers dat hulle die visie behoort te dien, ten gunste daarvan om bloot ‘n geoliede masjien te laat hardloop. Die aandag aan detail kan hulle soms laat vergeet van die rigting waarin hulle behoort te beweeg.

Om elkeen van hierdie vier leiers te verstaan en te bemagtig, is absoluut vir enige leier noodsaaklik. Soms maak leiers die fout om vir ‘n bekwame persoon, wat eintlik ‘n rigtinggewende leier is, in die posisie van ‘n operasionele leier te plaas, of hulle hanteer ‘n spanbouende leier soos ‘n strategiese leier. Praktyke soos hierdie veroorsaak heel dikwels konflik en langtermyn oneffektiwiteit. ‘n Deel van die Koninkrykswysheid, wat ‘n leier behoort te hê, is om te weet wie jou sterkste mense is en op hulle sterk kwaliteite te konsentreer.

bottom of page