Al die pad!
top of page

Al die pad!


Lees Romeine 8:17

 

“Moenie bekommer nie - daar wag iets beter op jou!” Dikwels deel mense sulke advies met mekaar wanneer slegte dinge gebeur. Ek weet nie hoe hulle dit weet nie. Nee, ek’s nie ‘n voorstander van Murphy’s Law wat sê: ‘Nothing is so bad that it can’t get worse” nie. Ek bedoel maar net ons moenie heeltyd geestelike suikerlekkers aan mekaar uitdeel nie. Die Here het nooit gewaarborg dat ons lewe geriefliker of veiliger sal word as ons Hom volg nie. Hy het ook nie gesê dat Hy vensters gaan oopmaak as deure rondom ons toegaan nie.

 

Paulus sê in vers 17 ons moet bereid wees om Jesus se lydinsgbeker te drink, as ons op die Gees se erfporsiepad stap. Nee, geloof is nie ‘n sagte opsie nie. Nêrens lees ek dat die Here vir Abraham, Moses, Jeremia, of Paulus gesê het dat ‘n wonderlike nuwe beroepskuif met beter werksvoordele, vriende en gewildheid op hulle wag as hulle gehoorsaam is nie. Nêrens lees ek dat die Here sê dis altyd veilig om Hom te volg nie. Of dat die byvoordele beter is as by jou huidige werk nie. Of dat dit so maklik is dat jy dit oor naweke in jou spaartyd kan doen nie. Om Jesus te volg, is ‘n risiko. Jy volg Hom nie sodat jou lewe rustig of voorspelbaar kan word nie. Inteendeel, jy volg Hom net omdat Hy die Here is. En omdat Hy vir jou gesê het: “Volg My!” Dis al!

 

Gebed:

Laat my al die pad saam met U stap, Jesus, ook al kos dit lyding. Amen.

bottom of page