top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Rusteloosheid en Rus


Toe ek nou die dag weer ‘n Sprite-advertensie sien, wat sê: Quench that Thirst, toe dink ek weer daaraan hoe eindeloos en bodemloos die menslike put van begeertes eintlik is, veral wanneer dit nie deur Jesus vervul word nie. G’n wonder een van die Tien Gebooie sê dat ons nie moet begeer nie. As ons ons begeertes nie beteuel nie, sal ons alles op begeer. G’n wonder ons planeet is in die moeilikheid nie. Lewensbronne is beperk en kan nie die menslike begeertes na nóg hanteer nie. Dis asof daar ‘n rusteloosheid agter meeste mense se verbruikersgewoontes lê. Daarom het Augustinus gesê:


U het ons vir Uself gemaak en ons hart is rusteloos totdat dit rus in U vind.

Die advertensiewese besef dit en die ganse industrie teer op die konstante menslike begeerte na meer:


Koop dit.

Doen dat.

Eet hierdie.

Drink dit.

Hê daai ding.

Kyk hierna.

Wees so.

Luister na hierdie ding.

Lees daardie boek.


Hierdie Kersfees gaan baie mense weer slagoffers van hulle eie onbeheerste begeertes wees. Die Middeleeuse katolieke teoloog, Tomas Aquinas, het met hierdie einste vraag gestoei. Hy het gevra: Wat sal dit verg om ons begeertes te bevredig? Wat sal ons totaal bevredig?


Sy antwoord? Alles!


Ons sal alles en almal in die wêreld moet ervaar en alles en almal sal óns moet ervaar om vervuld te voel! Ons sal almal moet ken, eet by elke restaurant, reis na elke land, elke stad beleef, aan elke pretdraf moet deelneem, elke natuurlike wonder moet beleef, elke prys moet wen, elke berg moet klim, elke item moet besit.


Menslike begeerte is die één eienskap van die mens, wat eindeloos en grensloos is. Ons sal nooit ophou begeer nie. Die probleem is egter dat onsself beperk en sterflik is. Die resultaat hiervan is dat ons permanent rusteloos is. Vandag noem ons dit FOMO (Fear of Missing Out). Ons wil altyd méér hê. Ons sal altyd leef met hierdie kroniese onvervulde begeertes.


Tensy...


Tensy ons besef dat ons begeertes grensloos en eindeloos is, juis omdat ons deur ‘n eindelose en grenslose Wese geskep is. Slegs hierdie ewige Wese kan ons eindelose begeertes vervul!


Kom na My toe, almal, wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig. (Matteus 11:28-30)

Ons kan ons rusteloosheid verruil vir die rus van Jesus. Hy is die alles, wat ons nodig het om ons elke begeerte te vervul. Wees tevrede met wat jy het. Laat jou lewe aan Hom oor. Rus in Hom. Moenie hierdie Kersfees net koop, koop, koop nie. Bid eerder Augustinus se gebed.


U het ons vir Uself gemaak en ons hart is rusteloos totdat dit rus in U vind.

Comments


bottom of page