“Decluttering” emosioneel en spiritueel
top of page

“Decluttering” emosioneel en spiritueel


Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd: 6 'n tyd om aan te skaf, 'n tyd om te laat wegraak, 'n tyd om te spaar, 'n tyd om weg te gooi (Prediker 3) (1983 Vertaling)

Vriende van ons wat onlangs verhuis het vertel hoe verstom hulle was oor hoeveel onnodige goed hulle opgegaar het – tydskrifte wat hulle nog wou lees, interessante leë botteltjies, boeke, notatjies, tekeninge van die kinders en ornamente. Dit gebeur so maklik en ongesiens.

Soos wat meeste van ons die neiging het om vas te hou aan besittings wat bekend is, maak ons ook so op emosionele vlak. Mooi herinneringe word saam met die seer weggebêre: Iemand maak jou liggaamlik of emosioneel seer, jy het 'n uitval met ‘n vriendin/vriend, jyself maak iemand seer of begaan ‘n oordeelsfout. Ideaal gesproke word hierdie pynlike gebeure dadelik aangespreek, daar is vergifnis vir alle partye en die voorval word afgehandel. Maar dit gebeur nie altyd nie; konflik word nie opgelos nie, vergifnis vind nie plaas nie. Gevolglik dra ons die gevoelens en gedragspatrone van die verlede saam wat ons verhoudings en optrede in die hede beïnvloed, dikwels op 'n negatiewe manier.

Emosionele bagasie het dieselfde effek as fisiese bagasie. Aanvanklik is ‘n rugsak of tas hanteerbaar maar hoe langer ek dit dra hoe swaarder word dit. Ekstra bagasie gaan my vemoë om die lewenswedloop goed te hardloop of selfs te voltooi, beïnvloed. As ek hierdie wedloop aandurf met ‘n rugsak vol pynlike herinneringe, onopgelosde konflik en wrokke wat ek koester, gaan my lewensreis heelwat moeiliker wees. Dis belangrik dat ek ontslae raak van hierdie onnodige ekstra bagasie.

Eerstens is dit belangrik om dit raak te sien, dit teenoor God te bely en Sy hulp te vra. Slegs Hy kan genesing bring vir hierdie seer en pyn. Dit kan ook help om stuk vir stuk deur jou bagasie te gaan en daarmee te deel. Sommige daarvan gaan moeiliker en meer pynlik wees om mee te deel as ander. Begin by ‘n proses van vergifnis, vir jouself of die persoon wat jou seergemaak het en vra God vir wysheid in die proses van heling in verhoudings met onopgelosde konflik. So kan ek permanent bevry word van alles wat swaar op my druk en Sy sielsvrede ervaar.


bottom of page