Om God met my liggaam te eer
top of page

Om God met my liggaam te eer


Robert Murray McCheyne, 19de-eeuse prediker in Dundee, Skotland, was bekend vir sy toegewyde huisbesoek en evangelisasiewerk. Toe hy op 25 om gesondheidsredes moes aftree, het hy steeds bly fokus op bediening totdat hy net voor sy 30ste verjaardag oorlede is. Terwyl fisiese uitputting sekerlik bygedra het tot sy vroeë dood, het hierdie jong man teen die einde van sy lewe gekla: “God gave me a message to deliver and a horse to ride. Alas, I have killed the horse and now I cannot deliver the message.”

Daar is Christene wat eerder sal uitbrand as “oproes”. Ja, daar is wel baie daarvoor te sê om ‘n korter maar betekenisvolle lewe te lei eerder as ‘n lang, vrugtelose lewe. Maar die meeste van ons bevind ons tussen hierdie twee uiterstes, met ‘n verantwoordelikheid om hierdie “perd” (my liggaam) te sien as deel van die toerusting waarmee God my in sy werk vertrou.

‘n Baie wyse nuwejaarsvoorneme sou wees om my “perd” (my liggaam, myself) so te versorg dat my lewe (en my bediening) hier op aarde nie net langer nie, maar meer betekenisvol kan wees. Waar Paulus die Korintiese Christene daaraan herinner dat hulle nie aan hulleself behoort nie, maar duur gekoop is, en daarom die Here moet eer deur middel van hulle liggame, kan hy vir die hedendaagse Christen herinner om God te eer deur sy/haar liggaam nie net seksueel suiwer/heilig te hou nie, maar ook gesond te hou.

Daarom kan ons mekaar in hierdie nuwe jaar aanmoedig om gebalanseerd te lewe. Ons kan kies om natuurlike, vars groente en vrugte, volgraan produkte en maer vleis te eet en dit nie te oordoen met verfynde koolhidrate (veral soetgoed) nie. Terwyl dit mode geword het om fiks te wees, is dit vir myself nog te maklik om maar ‘n oefensessie of ‘n lang stappie oor te slaan. En dan kan geen liggaam (en siel) natuurlik gesond bly sonder genoeg rus/slaap en af en toe ‘n bietjie ontspanning of vakansie nie.

‘n Sendelingvriend van ons het eendag hierdie wysheid kwytgeraak: “Soms is die mees geestelike ding wat jy kan doen, om ‘n bietjie te gaan slaap.” Natuurlik besluit God oor die dag waarop ek hemel toe gaan, maar ek kan baie doen om die dae waarmee Hy my vertrou, sinvol en vrugbaar aan te wend deur die “perd” waarmee ek die hemelse boodskap van redding en versoening moet aflewer, goed te versorg.

(Geïnspireer deur Richard Eastman, Honoring God with our bodies)


bottom of page