Leier Nuusbrief Januarie 2020 Deel 1

January 22, 2020

 

Die doel van invloed

 

Wat maak vir Jesus saak. Kyk na sy eerste preek. Ons kan nogal heelwat uit Lukas 4 van Jesus se prioriteite leer. Daar stel Hy die agenda vir die res van sy bediening. Jesus het gesê: die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig (Lukas 4:18 – 19).

 

Jesus het duidelik ‘n unieke belangstelling in die randfigure van die samelewing gehad. Dit was in wese die hart van sy bediening. Hoe ons sorg vir die randfigure in ons samelewing demonstreer ons liefde vir Jesus.

 

Ek was honger en julle het vir My iets gegee om te eet; Ek was dors en julle het vir My iets gegee om te drink; Ek was ‘n vreemdeling en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek en julle het My verpleeg; in die tronk en julle het My besoek (Matteus 25:35-36).

 

Dit bring ons by Psalm 72, ‘n psalm van Salomo. Salomo bid hier vir meer invloed.  Hy was die magtigste man in die wêreld. As jy dit die eerste keer lees, klink dit arrogant. Maar hoekom het Salomo dit gedoen? Hy gee die antwoord in verse 12 – 14:  Hy sal die arme red wat om hulp roep, die verdrukte en dié wat geen helper het nie; hy sal hom oor die swakke en behoeftige ontferm, en die lewens van die arm mense beskerm. Hy sal hulle van onderdrukking en geweld bevry; hulle lewens sal kosbaar wees in sy oë.

 

Salomo het God vir invloed gevra sodat hy die randfigure in die samelewing kon help. Dit is hoekom God ook aan ons invloed gegee het. Jy mag glo dat jy geen invloed het nie, maar jy het. God wil hê dat jy hierdie invloed sal gebruik om ander mense te help. Die doel van jou invloed is om te praat vir diegene wat nie invloed het nie.

 

Hier is ‘n eenvoudige voorbeeld. Kersfees is vars in ons gedagtes. oor ‘n paar maande is dit weer KERSFEES. Miljoene kinders gaan Kersfees tegemoet sonder ouers. Hulle voel verwerp, eensaam en skaam. Begin in jou gemeente Kersgeskenke bymekaarmaak vir hierdie kinders. Kersfees is net die punt van die ysberg. Deur die hele jaar het jy die geleentheid om aan die geestelike en fisiese behoeftes van hierdie kinders te werk. Dit is ‘n goeie manier om jou invloed te gebruik om die randfigure in ons samelewing by te staan.

 

Is dit nie wat Jesus sou doen nie?

 

Die koninkryk van God

 

Elke keer as ons die Ons Vader-gebed bid, vra ons dat God se koninkryk moet kom. Maar wat het Jesus daarmee bedoel? Johannes die Doper en Jesus het hulle bediening begin met: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matteus 3:3 en Matteus 4:17).

 

Toe die Fariseërs vir Jesus gevra het wanneer die koninkryk van God sou kom, antwoord Hy hulle: Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê ‘Kyk hier is dit!’ of; ‘Daar is dit’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle (Lukas 17:20 – 21). ‘n Paar hoofstukke verder beskryf Jesus ‘n aantal tekens en sê: Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet julle dat die koninkryk van God naby is.

Geen wonder daar is so baie verwarring oor die onderwerp nie.

 

Om die begrip te verstaan, moet ons vier vra antwoord:

 

1. Wat is die koninkryk van God?

 

Die word koninkryk verwys na beide die gebied en die heersende gesag van GOD. Alhoewel Hy die soewereine heerser van hemel en op aarde is, is daar ‘n spesifieke ruimte waar Hy oor sy onderdane heers – diegene wat deel van sy koninkryk is. God is vir ons ‘n toevlug en beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood. Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Oor die strome van die rivier is daar blydskap in die Godstad, in die heilige woning van die Allerhoogste. God is daar; die stad sal nie wankel nie. God sal hom help nog voor die môre kom. Nasies kan raas en koninkryke kan wankel, maar as God sy stem laat hoor, smelt die aarde weg (Psalm 46:2 – 7).

 

Toe Jesus gesê het dat die koninkryk gekom het en nou in hulle midde was, kondig Hy aan dat HY, die Koning nou op aarde was. Alhoewel HY deur die Jode verwerp, en deur die Romeine gekruisig was, het sy koninkryk nie misluk nie, maar is gesetel in die harte van diegene wat in Hom glo.

 

Tans is daar twee geestelike koninkryke in werking op die aarde – dié van duisternis en die koninkryk van die Seun van God. Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van die Seun wat Hy liefhet (Kolossense 1:13). Dié in die mag van die duisternis leef vasgebind aan sonde en leef onder Satan se gesag. Hierdie is die gebied waarin alle mense gebore word, want ons is almal sondig. Maar God het sy meesterplan in werking gestel deur mense in duisternis deur sy Seun oor te plaas na sy koninkryk.

 

2. Hoe betree ons God se koninkryk?

 

Jesus sê vir Nikodemus: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie (Johannes 3:3). Jesus praat hier van regenerasie deur die Heilige Gees wat verlossing vergesel. In ons sondige toestand is ons nie geskik vir God se koninkryk nie. Ons moet ‘n nuwe skepping word -  ‘n nuwe hart en gees. As hierdie nuwe skepping, saam met al die gelowiges oor die wêreld en van alle tye, word ons mense van sy koninkryk. Dit is dan die volledige kerk.

 

3. As ons burgers word, hoe word ons betrokke by hierdie koninkryk?

 

Al woon ons op aarde is ons burgerskap in die hemel. Die aarde is nie ons tuiste nie en daarom moet ons nie die waardes en praktyke van die koninkryk van die duisternis aanvaar nie. Ons Koning is Jesus en hy het vir ons gesê: Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee (Matteus 6:33). Ons doen dit deur ons aan sy gesag te onderwerp en volgens Bybelse beginsels te leef en deur in sy liefde en kennis te groei. In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word (1 Petrus 1:3 – 4). Ons hoop is nie in hierdie lewe nie, maar in ‘n onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis vir ons bewaar in die hemel.

 

4. Wat is ons verantwoordelikheid teenoor diegene buite die koninkryk?

 

 Jesus het ons nie hier gelaat om die tyd te verwyl totdat ons die hemel kan binnegaan nie. Ons Koning het aan ons ‘n boodskap toevertrou om te verkondig: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het (Matteus 28:19 – 20).  Soos ons die evangelie van verlossing na die wêreld uitdra, voeg God een vir een mense wat verlos is by sy koninkryk. Ons taak is om die weg aan te dui, deur hulle te vertel wat Jesus gedoen het om die kloof van sonde tussen God en mens te oorbrug. Dissipels wat dissipels maak is deel van God se plan om mense by sy koninkryk te voeg. Ons het nie die mag om iemand te verlos nie, maar ons het die waarheid wat God gebruik om mense se denke en harte oop te maak om in Christus te glo. Ons verantwoordelikheid is om getrou te wees en om elke geleentheid wat God voorsien te gebruik om sy liefde te wys deur ander te vertel hoe hulle burgers van sy koninkryk kan word.

 

Ons leef nou in die genadetyd waartydens meer en meer mense in sy koninkryk inroep. Dit is tans ‘n geestelike ryk, maar een dag as Jesus weer kom, sal dit ‘n fisiese ryk word. Dit is immers wat ons elke keer bid as ons sê: Laat u koninkryk kom (Matteus 6:10). Daar kom ‘n dag wanneer die koninkryk van die wêreld die koninkryk van ons Here en van Jesus Christus sal wees en wanneer Hy vir ewig sal heers: Die koningskap oor die wêreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid (Openbaring 11:15). Tot dan moet ons getrou bly.

 

Lees die Bybel

 

Hoe help jy iemand om die Bybel te lees? Daar is geen geheime formule nie. Om die Bybel te lees en te verstaan, is nie noodwendig maklik nie. Tog kan ons ons kennis van die Bybel voortdurend verdiep.

 

Hoe?  Hier is vyf manière om die Bybel te lees.

 

1. Lees die Bybel met eerbied

 

Die Bybel is God se woord aan mense en openbaar God se plan vir verlossing. Dit vereis eerbied. Mense is gebruik om God se openbaring te skryf. Maar dit is nie ‘n boek deur mense nie. Die Tessalonisense het die boodskap van God … gehoor en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde was nie, maar die woord van God (1 Tessalonisense 2:13); daarom moet julle … ootmoedig die woord aanneem wat God in julle geplant het, want die woord kan julle red (Jakobus 1:21). Ons moet wat die Bybel sê in alle nederigheid aanvaar.

 

2. Lees die Bybel in konteks

 

Ons moet ‘n sekere kennis van die Bybel en die tye waarin die geskryf is, hê. Ons moet die teks in sy literêre en historiese konteks lees. Die Bybel bestaan uit verhale, poësie, profesie, ens. Ons moet met sensitiwiteit lees. Ons moet ook elke teks in die vloei van die oorkoepelende verhaal van die Bybel lees. Onthou altyd die doel waarvoor die skrywer geskryf het. Sekere dele van die Bybel is in sekere tye van die geskiedenis geskryf. Hulle weerspieël spesifieke kultuuragtergrond. Kry goeie studiemateriaal om jou te help.

 

3. Lees Christus-gesentreerd

 

Moet nooit die “groot verhaal” van die Bybel vergeet nie. Dit gaan oor Jesus Christus. Die Ou Testament verwag Jesus en die Nuwe Testament openbaar Jesus. Elke boek dra by tot die boodskap van ‘n heilige God wat deur die genadige Christus verlos. Nie elke gedeelte in die Ou Testament verwys eksplisiet na Christus nie, maar elke gedeelte beweeg die storie nader aan sy klimaks in Jesus Christus.

Van Genesis tot Openbaring is daar een storielyn wat die Bybel bymekaar hou. Die temas in hierdie storie is skepping, sondeval, verlossing en herstel.

 

4. Lees gesamentlik

 

Die Bybel moet nie in isolasie gelees word nie. God het aan elkeen van sy mense die voorreg gegee om die Bybel te kan lees en te verstaan. Christelike groei kom nie net deur individuele studie nie, maar ook deur gesamentlike studie.

 

Dit gebeur deur die prediking van die Skrif deur diegene wat daartoe geroep en toegerus is. Paulus se raad aan Timoteus is: Met die oog op sy koms en sy koningskap verkondig die woord. Hou daarmee vol, tydig en ontydig; weerlê, bestraf, bemoedig deur met alle geduld onderrig te gee (2 Timoteus 4:1 – 2). Ons moet ook die Bybel lees en verstaan deur gelowiges wat die teks beskryf en uitlê. (Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade. Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly nie …  maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan (Hebreërs 10: 24 -25).

 

5. Lees gereeld

 

Om die Bybel beter in diepte te verstaan, moet ons dit weer en weer lees. Ons moet God se woord gereeld lees en daaroor nadink. Op u gebooie, wat ek liefhet, sal ek my hoop vestig, U voorskrifte sal my bybly (Psalm 119:48). Soos ons kennis toeneem, word elke vers duideliker. Gelowiges kry nooit klaar aan die Bybel gelees nie.

 

As ons hierdie vyf riglyne in ag neem. Sal ons as getroue lesers van God se Woord groei.

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

February 14, 2020

February 11, 2020

February 7, 2020

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload