2020: God se genadejaar
top of page

2020: God se genadejaar


Dit is seker gepas om te sê dat menige pad in die Bybel na die bergrede van Jesus lei. Vanoggend blaai ek weer na die gedeelte in Matteus 5 en begin lees. Ek kom nie verder as vers 4 nie.

“Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.”

Ek het die gedeelte al hoeveel maal gelees, maar vir die eerste keer is dit juis hierdie vers wat na my toe uitspring en vra om dieper bestudeer te word. Dit is mos hoe die Here deur sy Woord met ons praat, nie waar nie?

Die afgelope ruk voel ek werklik droewig oor die situasie in ons land, net soos menige ander Suid-Afrikaanse Christen. En ons het rede om te treur. Ons lewens word immers verdonker deur gevoelens van hartseer en verlies oor iets kosbaars en mooi wat verlore geraak en verdwyn het. Dit raak al hoe moeiliker om die hoop en die mooi raak te sien.

Natuurlik neem vers 4 my na Jesaja 61. Jesaja 61 vorm deel van “Tritojesaja” (hoofstukke 56 tot 66), wat die toestande en gemoedstemming in Jerusalem beskryf ná die ballingskap tot ʼn einde gekom het. Die Judeërs was moedeloos en dié gedeelte het ten doel om hoop en vertroosting te bring: Die tyd waarop God genade betoon en die treurendes vertroos, het aangebreek. Hy bring eer in plaas van smart en vreugde in plaas van droefheid.

Eeue later lees Jesus Christus die eerste verse van Jesaja 61 in die sinagoge voor (Lukas 4:17) en dit is duidelik ʼn eeue-oue profesie wat deur sy koms verwesenlik is. Volgens vers 18 en 19 is die Christus na die aarde gestuur om “die genadejaar van die Here aan te kondig.”

“Genadejaar”. Wat ʼn mooi woord!

Jesaja 61:3 sê verder dat dié wat vertroos en verbly word “Bome van Redding” genoem sal word. “Die Here het hulle geplant om sy roem te vermeerder.”

Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Hulle staan bekend as die Bome van Redding in God se pragtige, geil tuin wat Hyself uitgelê en geplant het. God se beloftes word waar in die lewens van die treurendes en hierdie mense ervaar werklike geluk as hulle deur die Heilige vertroos word.

Mag jy in 2020 vertroosting, blydskap en hoop beleef en God se genadejaar ten volle ervaar en geniet!


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page