ADRES NOMMER VYF
top of page

ADRES NOMMER VYF


Wat is God se laaste aardse adres voor die wederkoms? Wel, jy is reg as jy sê dis die Heilige Gees. Hy is die Een wat die spasie kom vul wat Jesus gelaat het. Hy is God se nuwe woning. Hy is die Een wat gekom het om die leë hemelse plek hier op aarde vol te staan. Jesus se weggaan is die kerk se wins. Dis Hy wat die plek en die tyd tot by Jesus se finale terugkeer vul. Die Gees is nou God by ons, God naby ons, God in ons, God voor en onder en bo en agter ons!

Die Gees is die Here se weggaan-geskenk aan elke gelowige. Nou is Joël en Esegiël se drome uiteindelik waar dat die Gees op al God se eiendom uitgegiet word. Nou bly die Gees by elkeen wat Christus as die Here bely. Trouens, sonder sy inwoning kan niemand sê dat Jesus die Here is nie.

Het God regtig nader aan ons gekom in hierdie nuwe adres? Ongetwyfeld. Hy is nou die naaste ooit aan ons wat glo. Geen wonder nie dat Jesus in Johannes 16:7 sê dat dit tot ons voordeel is dat Hy weggegaan het hemeltoe. Nou staan die Gees sy skoene vol, en sommer ook nog persoonlik in ons wat Jesus navolg! Nou is ons sy lewende, bewegende, asemhalende, pratende, singende tempels!

Gebed

Gees van die Here, dit oorwedlig my om te dink U het in Jesus se plek by ons kom bly. Wat ‘n eer! Amen


bottom of page