Geseënd is die wyses, want hulle sal min wees!
top of page

Geseënd is die wyses, want hulle sal min wees!


Geloof is nie sinoniem met wysheid nie, nie in Spreuke nie! Wysheid kom nie vanself nie. Dit daal nie outomaties op jou neer net omdat jy bely Jesus is Heer nie. Wysheid vra ‘n tweede bekering. In die taal van Spreuke 2 en 3 vra dit dat jy moet verander in ‘n lewenslange skattejagter. Jy moet elke dag die pad vat na God se skatkamers van wysheid. Slegs wanneer jy sy hemelse wysheid najaag met alles in jou, neem dit vorm aan in jou lewe.

Hoe lyk hemelse wysheid? Wel, dit verander die tekstuur, gerigtheid, inhoud en kwaliteit van jou ganse lewe. Eerstens word jou hart en jou gedagtes die Here S’n... voltyds, bedoel ek. Jou begeertes is nou op God gerig, nie meer op jouself nie. Jou lewensgerigtheid is nou Godwaarts, nie selfwaarts nie.

Wysheid verander ook jou taal ingrypend. Nou breek jou woorde nooit ander mense af nie. Dit bou hulle op. Nou is jou woorde nie instrumente van massa vernietiging nie, maar woorde van genesing. Jou woorde wys gedurig die regte koers aan. Dit bring hoop en lewe in ‘n wêreld waar dwase woorde wen. Nou is jou hart sag en jou hande wawyd oop vir mense in nood. Jy leef vrygewig. Jou teenwoordigheid maak elke slag ‘n goeie verskil van een, ‘n wyse verskil.

Wanneer wysheid toeneem in jou lewe, groei jy in genade en guns by die Here en tussen mense. So vertel Spreuke 3:4. Dan dra jou woorde en jou dade gewig - in die hemel en op aarde. Wysheid versier jou lewe met diep vrede en met blydskap in die Here. Dit maak dat jou lewe gegrondves is op die Rots wat nooit wankel nie. Kies vir wysheid. Jy sal altyd deel van ‘n minderheidsgroepie wees as jy dit doen. Maar wat ‘n wonderlike minderheid, en wat ‘n lewe!


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page