Vandag se vrou
top of page

Vandag se vrou


Op Apple TV het ek begin om die komedie-reeks, Dickenson, te kyk, wat vaagweg gebaseer is op die lewe van die digter Emily Dickenson. Die reeks speel met die idee van hoe vroue gesien was in die negentiende eeu, maar ook hoe Emily ‘n generasie van hedendaagse jonk, sterk, rebelse vroue verteenwoordig.

Dit het my laat dink aan hoe baie mense die gesegde, “vandag se vroumense…” gebruik, om te verwys na ‘n houding of ingesteldheid van die moderne vrou. En hoe daai verwysing selde na iets positief is? Emily het ‘n duur prys betaal om teen die stroom te gaan, en tog was sy heeltemal voor haar tyd. Toe sy worstel met die gedagte dat sy dalk ‘n verleentheid vir haar familie en hul goeie naam in die dorp is, sê een van die karakters vir haar, “My darling. You’ll be the only Dickinson they talk about in 200 years. I promise you that.” Ons almal wil onthou word. Maar min mense wil die tipe goed doen wat ongewoon, of teen die stroom is, om onthou te word nie.

Dis asof die samelewing nie ‘vandag se vrou’ ten volle kan aanvaar nie- nie in Emily se dag nie, en ook nie vandag nie. Dis asof sy terselfdertyd geprys, en veroordeel word, deur die einste mense wat een vir een hulle klippe sou neergooi as hulle voor haar staan en die Meester hoor se, “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi." Ons dwing haar, om in haar eindelose geveg vir gelykheid, te kies tussen wie sy wil wees en wie sy moet wees- in vergelyking met haar “voormoeders”.

Sy het drome, passies en potensiaal van lewensdraende vermoë, maar sy staan dikwels arm voor haar eie ideale. Sy staan met ‘n onvervulde opening waarmee sy nêrens kan gaan nie.

In haar linkerhand is die wysheid van ouds - ‘n generasie van vroue wat hul dae agter potte, kinders, borduurwerk en die mooiste tuine spandeer het. Die vrou het geglo, soos Lucas Maree sing in Die Weduwee se Kruik, “…dit is die goeters wat mens weggee wat jou ryk maak.” Dis ‘n mooi tradisie; hierdie moederlike steunpilaar van ‘n huisvrou.

Sy was sterk!

Sy was knap!

En sy was vreesloos!

En in ‘vandag se vrou’ se regterhand is die aantreklikheid van nuut, vars en vinnig – die multi-dinamiese vrou wat haar eie lewe met ‘n ysterhand balanseer. Sy het die geheim van self-vervulling onder die knie en sy is ‘n raakvatter. Sy is nie onbekend met rolle verandering nie; sy’s in baie gevalle ma en pa, en sy skroom nie. Dit wat sy soek is waarvoor sy gaan want sy’s bewus dat sy dikwels twee keer soveel moeite moet insit om teen haar manlike eweknie, met sy breë skouers, self-vertroue en welsprekendheid, moet mee te ding. Sy staan kop bo water.

Ek het groot respek en eerbied vir ‘vandag se vrou’.

Ook sy is sterk en knap en vreesloos!

Maar ek voel ook inniglik vir vandag se vrou, wat dikwels moedeloos sit tussen die opsies- om te ‘wees’ of te werskaf. Veg sy vir haar identiteit as ‘n vrou, of haar rol as een?

Jesus het eendag by twee susters, Marta en Maria, tuis gegaan. Marta was druk aan die werskaf, besig om haar rol as gasvrou te vervul, terwyl Maria haar identiteit by die voete van Jesus gevind het. Marta se gewerskaf het Jesus geensins beïndruk nie, maar van haar suster het Hy gesê, “…dit sal nie van haar weggeneem word nie."

Identiteit (wie jy is) kan nie van jou af weg geneem word nie, maar ‘n rol (wat jy doen), kan in ‘n oogwink weg geneem word. Die sterk vrou is nie noodwendig die een met die top posisie nie, of die een wat die chaos en vereistes van vandag kan balanseer nie. Die sterk vrou is dikwels net die een wat weet wie sy is-met of sonder!

Dis maklik om die gehoor met jou uiterlike sterkte te fnuik maar die vrou van sterkte verstaan haar emosionele kapasiteit beter as haar klerekas sin. Die vrou van sterkte staan onafhanklik, maar sy is nie trots om te vra nie. Sy werk met haar passies, benader haar drome en staan nie terug vir probeer nie.

Bowenal, die vrou van sterkte sien wanneer sy leeg is, en word dan hervul deur die Een wat groter as sy is. Hy vul haar hart met dieselfde krag en moed wat in Rut, Ester, en Hanna, onder andere, geleef het. Hy verfris haar perspektief oor die dinge wat werklik saak maak, en wat ewigheids-waarde het.

Hierdie vrou van sterkte is wie elke jongvrou gemaak is om te wees.

Ek sien daagliks die hoog geagte Spreuke 31 vrou- in alle vorme- om my loop, om my werk – in haar voorskoot, haar sportmotor, haar kantoor, by haar kuns- daar waar sy leef en droom- in die winkel, in haar ouerhuis, in die skool se parkeerarea of agter die glasdeure van haar maatskappy.

Sy is die steunpilaar en haar waarde strek bo haar eie verwagting.

Dis van haar wat gepraat word in Spreuke 31:25, Alles aan haar spreek van ‘n sterk en edel persoonlikheid; sy ken geen kommer oor die toekoms nie.


© 2024 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Payfast_white.png
snapscan grys_edited_edited.png
Zapper logo wit.png

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • Whatsapp
  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon

Laai ons "app" af:

Apple store wit.png
bottom of page