top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Bly stil vir die Here


Die Kanadese sielkundige Jordan Peterson is een maal gevra waarom hy so senuweeagtig is en waarom hy so deeglik voorberei voordat hy in die openbaar verskyn. Sy antwoord was eenvoudig:

I’m afraid I’ll say something stupid!

Wanneer ek na die geraas in die media asook sosiale media kyk dan wonder ek egter of genoeg mense hierdie vrees het! Almal hou van praat. Ons hou daarvan om ons stemme te laat hoor. Almal dink húlle boodskap is – tussen al die ander goeie moontlikhede – dié een wat die moeite werd is om te hoor. Op Facebook en Twitter is almal besig om oor en weer te reageer om verskillende politieke agendas, media-waardige gebeure of sommer net diverse opinies oor wie-weet-wat. Min mense is gretig om te verstaan wat hulle opponent werklik sê of bedoel. Almal wil hom egter antwoord.

Christene spring ook natuurlik op hierdie wa. Ons het skynbaar netso min selfbeheersing as die res van die samelewing. Ons regverdig egter ons gebrek aan selfbeheersing geestelik: Ons moet nou opstaan vir die Here, so word daar gepraat. In ‘n desperate poging om nie ontrou te wees aan laasgenoemde opstaan nie, is almal aan die praat: ons verdedig ons eie standpunte; ons maak aansprake; ons vergiftig braai-geleenthede met ons opinies; ons tree in debatte om die wêreld te oortuig dat óns reg is! In die kerk dagvaar ons mekaar selfs nou wanneer ons voel ons stem word nie na ons eie mening hard genoeg gehoor nie. Almal dink hulle is reg en tog trek my hart saam wanneer ek lees wat Christene oor mekaar of oor die lewe sê. Menigmale hoop ek my nie-gelowige vriende sien nie raak wat sommige my geloofsgenote nou al weer kwytgeraak het nie. Almal lawaai en gaan te kere. Dan hoor ek die spreekwoord in my kop wat lui:

Die lewe is soos ‘n swembad: al die lawaai kom van die vlak kant af.

En wanneer hierdie swembad-woorde deur my kop waai dan hoop ek dat ek nie deel van die probleem is nie. Eintlik weet ek ek is. Trouens, hoe meer ek hoor hoe minder wil ék praat. Ek is te bang ek klink netso onnosel soos sommige van die praters. Eintlik weet ek diep in my hart dat dit wel so is. Ek mislei ook gereeld die wêreld met my dwaasheid. Ek self is ‘n prater en ek wonder hoeveel kere ek ondeurdagte en impulsiewe goed kwytraak. Ek vermoed dis meer kere as wat ek in my hart hoop. Somtyds moet ons die waarde van stilte en nie-reaksie leer.

Die Bybel het natuurlik baie oor stilte te sê.

Wie die kennis het, kan spaarsaam met sy woorde wees...As ‘n dwaas nie praat nie kan selfs hy aangesien word vir ‘n wyse, en as hy sy mond hou, vir ‘n verstandige (Spr 17:27-28).

Wie sy mond en sy tong in toom hou, hou hom uit gevaar (Spr 21:23).

Natuurlik moet ons praat vir die Here. Maar dikwels moet ons dalk eerder vra wie gaan stilbly vir die Here. Wie gaan vir die Here opstaan deur niks te sê nie? Ek moet myself dikwels herinner: Daar is net één Messias en dis nie ek nie. Hý is die Woord, die Logos met die regte woorde, nie ek nie. Ek is geen logos nie, ek vólg die Logos. Ja, ek kan (en moet!) sy lewe en woorde eggo onder leiding van die Heilige Gees. Ek is net nie altyd so oortuig dat ék Hom reg verstaan, dat ék die beter opinie het, dat ék die suiwerste interpretasie het nie. Snaaks dat ander praters soms so seker is van hulleself. Dis vir my vreemd dat meer mense nie bang is soos Jordan Peterson, dat hulle iets onnosel kwytraak, of net eenvoudig te veel praat nie.

Dit word vertel dat die Christen filosoof Dallas Willard op ‘n keer – soos wat dikwels in sy klas gebeur het – in ‘n vriendelike debat verkeer het met ‘n ateïs. Hy laasgenoemde toegelaat het om vir oulaas sy sê te sê waarna hy die klas eenvoudig afgesluit het. Sommige van sy Christen studente was ontsteld omdat Willard nie die ateïs op sy plek gesit het nie. Na die klas vra hulle hom waarom nie, waarop hy antwoord:

I practised the spiritual discipline of not having the last word!

Liewer stilbly as dat ons soos klinkende simbale in die vlak kant lawaai.


bottom of page