“Ander godsdienste sou dit nie gevat het nie…!?”
top of page

“Ander godsdienste sou dit nie gevat het nie…!?”


Mens hoor hierdie woorde gedurig as ons geloof in die gedrang is. Dan word daar vertel hoedat ander gelowe in opstand sal kom indien daar so met hulle godsdiens gespot word. Ek onthou juis hoe iemand, wat op die punt was om een of ander militante aksie in die naam van Jesus van stapel te stuur, dit ’n paar jaar gelede nogmaals vir my gesê het. Toe sê ek vir hom hulle tree niks anders as daardie einste godsdienstiges op nie.

“Maar ons moet opstaan vir die Here,” sê hy driftig.

“Inderdaad, maar dan soos wat die Nuwe Testament ons leer,” antwoord ek. Toe herinner ek hom aan 1 Petrus 2:15: “Dit is die wil van God dat julle deur goed te doen ’n einde sal maak aan al die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” Toe voeg ek by dat Petrus ons boonop in vers 18-21 oproep om in moeilike omstandighede lyding te verduur vir Christus. Met name skryf hy in vers 20: “Om lyding te verdra wanneer julle goed doen, dit is genade van God. Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ’n voorbeeld gestel het sodat julle in sy voetspore kan volg.”

“Beteken dit ons mag niks doen nie?” vra die persoon.

“Nee, dit beteken ons handel altyd in liefde, ook as ons protesteer. Ons voorbeeld is Jesus, nie ander godsdienste nie. Ons doen wat 1 Petrus 2:23 sê: ‘Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie. Toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.’”

Ons moet weet ons geloof gee soms aanstoot. Die Nuwe Testament waarsku ons oor en oor dat dit sal gebeur. Die vraag is egter hoe ons hierop reageer. En dit is juis hier waar ons 1 Petrus 2:21 en 23 getrou moet navolg. Jesus self wys vir ons hoe ons moet optree in sulke tye. Ons beledig nie terug nie. Ons raak nie aggressief nie. Ons veg nie. Ons baklei nie. Ons pak ons aanvalswapens weg. Vroeër moes Petrus self dit ook leer toe Jesus gearresteer is in die Tuin van Getsémané. Ons lees in Johannes 18 hoe hy sy swaard uitgeruk het en begin baklei het. Toe het Jesus hom gestop, want Sy ryk kom nie deur mag en geweld nie.

Ons mag protesteer as ons Heer se mooi Naam in die gedrang is. Maar ons kry eers al die feite voordat ons blindelings instorm. Ook herinner ons onsself aan Jesus se voorbeeld in 1 Petrus 2 oor hoe ons moet optree. Slegs deur ons eie voorbeeldige optrede in sulke tye sal ons ’n getuienis, hê. Wanneer ons nie kwaad met kwaad vergeld, of belediging met belediging nie (1 Petrus 3:9), sal ons met integriteit en beskeidenheid oor ons geloof kan praat (1 Petrus 3:15-16). Ons as navolgers van Christus is nie militant of triomfantalisties nie. Ons is knegte van ons Here. En ons leef ook so.


bottom of page