Leier Nuusbrief Oktober 2019
top of page

Leier Nuusbrief Oktober 2019


Moet die gemeente daarna streef om relevant te wees?

Hierdie vraag lok uiteenlopende antwoorde by mense uit. Niemand wil tog deel wees van ‘n kerk wat irrelevant is nie, maar baie mense assosieer relevansie met allerhande foefies en oppervlakkige boodskappe.

Die Bybel skilder relevansie as ‘n vaardigheid van dissipels wat die evangelie van Christus in ‘n veranderende kultuur wil verkondig. Soos enige ander vaardigheid kan dit gebruik word om sy God-gegewe bedoeling te verdraai. Dit kan sonder twyfel misbruik word.

Hoekom moet gemeentes na relevansie streef?

1. Relevansie is ‘n uitdrukking van die goue reël

Doen aan ander wat jy graag wil hê dat hulle aan jou moet doen. Hoe wil ons hê dat ander mense ons moet hanteer? Ons wil hê dat hulle ons op ons vlak moet ontmoet. Hulle moet ‘n belangstelling toon in dinge wat vir ons belangrik is. Hulle moet woorde gebruik wat ons verstaan. As ons so hanteer wil word, moet ons daarna streef om relevant aan ons kultuur te wees – in die metodes en styl wat ons gebruik om die evangelie te verkondig en in die manier waarop ons die Christelike lewe uitleef.

2. Relevansie weerspieël die menswording

Die verhaal van die evangelie se spilpunt waaromheen alles wentel is die menswording van Jesus. Terwyl Hy sonder sonde was, het Jesus die taal en gebruike van sy mense aanvaar en het Hy aan die kultuuraktiwiteite van sy dag deelgeneem. As Hy ander onderrig het, het Hy gelykenisse en illustrasies wat relevant vir die Jode van destyds was, gebruik. Jesus het ‘n onlangse nuusgebeurtenis gebruik om sy mense te onderrig (Lukas 13:4) en Hy het die Ou Testamentiese Skrif gebruik en dit verbind aan algemene lewensondervindings wat toepaslik was op sy gehoor. As ‘n gemeente daarna streef om relevant vir sy gemeenskap te wees, boots dit sy Verlosser na. Hy het die inisiatief geneem om van die hemel na die aarde te kom en ‘n mens van vleis en bloed te word en om onder sy mense te kom woon en hulle taal te praat.

3. Relevansie is ‘n uitvloeisel van ‘n lewe van verhoudings

Om relevant te wees, vereis doelgerigtheid. Dit gebeur ook spontaan as ‘n gemeente betrokke raak in die gemeenskap en sy Groot Opdrag (Matteus 28:19 – 20) vervul. As Christene gereeld interaksie het met kerklos mense, kry hulle ‘n perspektief oor hoe ongelowiges die gemeente van buite sien.

Dit stel ook Christene in staat om mensgemaakte struikelblokke wat in kerkpraktyke ingesluip het, te verwyder. Dit is onnodige hindernisse wat mense verhinder om die Goeie Nuus te hoor en te verstaan. Daar is baie style in ons gemeentes wat niks met die evangelie of trou teenoor die Skrif te doen het nie. Hulle bly daar onveranderd vir jare, want die gemeente is gemaklik met hulle.

Slaggate om te vermy as ons na relevansie streef

As ‘n gemeente relevansie nastreef is daar sekere versoekings wat vermy moet word. Kom ons kyk na ‘n paar:

1. Kompromitteer die Bybelse waarhede

Relevansie kan ‘n afgod word as dit veroorsaak dat die gemeente sy Bybelse waarhede afwater en toegewings maak aangaande die waarheid. Daar is ‘n groot verskil tussen mense help om ‘n moeilike gedeelte te verstaan deur dit in toeganklike taal te verduidelik en om moeilike gedeeltes af te water sodat hulle uiteindelik die teenoorgestelde sê as wat hulle werklik bedoel.

2. Selfsug

Die doel van relevansie aan die kultuur is om Jesus te verheerlik en om mense se geloof op te bou. Dit is nie om die leraar en gemeente se beeld te verbeter nie. Relevansie het niks te doen met “cool of hip” wees nie. Dit het alles te doen om kerklos mense te ontmoet net daar waar hulle is en om met hulle te kommunikeer op manière wat hulle verstaan.

3. Is nie veronderstel om alle wrywing deur die evangelie te verwyder nie

‘n Gemeente wat relevant is probeer alle onnodige wrywing met die wêreld verwyder – veral wrywing as gevolg van styl en taalgebruik. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van bose geeste … Daar is mense wat sê: “Alles is geoorloof” Ja, maar nie alles is heilsaam nie. “Alles is geoorloof,” sê hulle. Ja, maar alles is nie opbouend nie. (1 Korintiërs 9:2, 23). Gemeentes moet aanvaar dat die evangelie altyd as gevolg van sy inhoud wrywing met die wêreld sal bring.

Die boodskap van sonde en berou is onderwerpe wat weerstand in die wêreld sal kry – in alle kulture. God se reëlings in verband met die huwelik, seksualiteit, wanneer die lewe begin en die oorsprong van die heelal is onaanvaarbaar vir mense wat hulle nie aan die gesag van die Bybel onderwerp nie. Gemeentes moenie relevansie van die kultuur met goedkeuring deur die kultuur verwar nie.

Hoe kan ‘n gemeente relevansie met die kultuur nastreef?

Dit moet natuurlik geskied terwyl die slaggate van relevansie vermy word. Hier is enkele moontlikhede:

  1. Bou doelgerig verhoudings met kerklos mense. Dit moet die verwagting en doel wees van elke lidmaat.

  2. Moenie in die kerk leef nie. Moenie jou gemeenteprogram so vol pak dat lidmate net tyd het om met ander gelowiges te verkeer. Laat die lidmate los in die gemeente vir bediening. Gee aan lidmate ruimte om in die gemeenskap uit te beweeg.

  3. Aanvaar tegnologie. Wees op hoogte van tegnologie se invloed op die gemeente Tegnologie is gedurig besig om ons gemeenskappe te verander. Gebruik tegnologie tot verheerliking van God.

  4. Jy kan die Skrif getrou uitlê en steeds relevant wees. Relevante prediking help mense om God se Woord aan die alledaagse werklikhede te verbind. God se Woord moet ons denke oor alle onderwerpe vorm.

  5. Bly op hoogte van nuus, neigings en gesprekke wat in die gemeenskap plaasvind. Lees elke dag die koerant.

  6. Vermy kerktaal. Waar presies is die heiligdom in die kerk? Wat is stiltetyd? Wat beteken gewas in die bloed van Christus?

  7. Open jou kerkgebou vir gemeenskapsgebeure en dienste sodat jy jou kerklos bure kan ontmoet.

  8. Vra vrae. Vra besoekers en lede van die gemeenskap eerlike vrae oor wat hulle van die gemeente en die Christelike geloof dink. Kry ‘n eerlike beoordeling van ‘n kerklos persoon wel ‘n erediens bygewoon het.

Afsondering

I went to the woods, because I wished to live deliberately, to front only the essential facts of life, and to see if I could not learn what it had to teach, and not, when I come to die, discover that I had not lived – Henry David Thoreau

Hy gaan om te kyk wat die afsondering in die woud hom kan leer van die lewe. Elke mens het afsondering nodig en moet leer wat dit vir ons te sê het. Dan moet ons luister na ons innerlike stem. So kry ons die spasie om werklik te fokus en te skep.

Selfs al word net kort tydjies vir afsondering opsy gesit, maak dit ‘n groot verskil. Dit kalmeer ons gedagtes en help ons om te besluit wat werklik belangrik in die lewe is. Ons hoor ook weer ons eie kreatiewe stem wat uitgedoof is deur ons daaglikse take en ons aanlyn interaksies.

Afsondering moet ‘n deel van ons daaglikse roetine word. Die beste tyd vir afsondering is vroeg in die oggend. Dan is dit nog stil en onderbrekings beperk. As jy nie stilte by die huis kry nie, gaan na ‘n koffiewinkel of ‘n biblioteek of ‘n park – gaan na ‘n plek waar daar geen internet is nie.

Baie mense vind afsondering ongemaklik – hulle moet tog iets doen. ‘n Eenvoudige benadering is deur elke dag te mediteer. Moet dit nie te ingewikkeld maak nie. Sit regop op ‘n stil plek, haal diep asem, hou jou oë oop en moenie op iets spesifiek fokus nie.

Aanvanklik is dit ongemaklik, maar jy leer baie oor jouself Jy leer om jou gedagtes dop te hou. Dit verhoed dat jou gedagtes jou nie beheer nie. Jy leer ‘n belangrike vaardigheid – as jy die drang voel om jou take te verander, sal jy nie daarop reageer nie. Dit bring jou aandag terug na die taak waarmee jy besig is.

Afsondering leer jou wat jou gewoontes en denkprosesse is en dit kalmeer jou gedagtes.


bottom of page