Die beste vraag
top of page

Die beste vraag


Deur die jare het ek medegelowiges baie vrae hoor vra aangaande geestelike en morele keuses. Dit sluit vrae in soos:

  • Waarom mag ek nie my vrou verlaat wanneer sy dit vir my moeilik maak, of wanneer ek iemand beter ontmoet nie?

  • Ek sukkel om iemand te vergewe. Moet ek regtig?

  • Mag ek flieks kyk wat oordadige geweld, seks en lastering bevat?

  • Is dit reg om te emigreer?

  • Waarom is rondslaap met ander mense verkeerd?

Baie ander soortgelyke vrae spook ook by sommige Jesus-volgelinge. Die antwoorde oor of bogenoemde praktyke reg of verkeerd is, is natuurlik nie so moeilik om te beantwoord nie. Natuurlik is egskeiding nie God se wil nie. Natuurlik moet ons vergewe. Natuurlik moet mens nie jou siel voed met iets wat skadelik is nie. Natuurlik moet mens slegs emigreer vir die regte redes.

My ervaring is egter dat hierdie maklike Bybelse antwoord nie altyd werklik help om beter keuses te maak nie. Mense weet heel dikwels wat reg of verkeerd is en tog doen hulle steeds net wat hulle wil. Ek dink nie dat bogenoemde vrae noodwendig slegte vrae is nie, maar ek dink daar is ‘n beter vraag wat ons kan vra wanneer ons God se wil probeer onderskei. Dié vraag is:

Watter soort mens wil ek graag wees?

Die Here is heel eerste in hierdie soort vrae geïnteresseerd. God is in ons karakter geïnteresseerd. Hy is heel eerste geïnteresseerd in watter soort persoon ek en jy besig is om te word. Die Heilige Gees is die groot Tempelbouer. Ons is God se tempel en Hy is besig om elke dag aan ons te werk en ons te smee en bou sodat Jesus se gestalte in ons elkeen begin vorm aanneem. Kom ons kyk weer na die vier vrae bo:

Egskeiding: Wil jy regtig die soort van mens wees wat jou mees intieme verhouding met ‘n ander mens soos weggooigoed hanteer? Wil jy regtig opgee op liefde?

Vergifnis: Wil jy regtig die soort van mens wees wat God se kruisverdiende genade met blydskap aanvaar vir jouself, sonder om jou eie kwaaddoeners te vergewe?

Fliek kyk: Elkeen van ons het swakhede. Wil jy regtig volhou om jou eie persoonlike swakheid so te voed met dinge wat jy weet jy nie kan hanteer nie?

Emigrasie: Wil jy regtig die soort van mens wees wat lewensveranderende besluite wil neem gegrond op vrees of haat?

Rondslaap: Wil jy regtig die soort van mens wees wat jou eie drange, impulse en begeertes nie kan beheer nie? Wil jy regtig op instink reageer soos ‘n dier of wil jy eerder besluite neem gegrond op ‘n dieper menslike, intellektuele en morele vlak?

Paulus gee vir ons gesonde riglyne in hierdie verband in Galasiërs 5:22. Geheel en al te min mense lees hierdie gedeelte as ‘n riglyn vir hulle daaglikse lewenskeuses:

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Die vraag is dus nie wat reg of verkeerd is nie maar eerder: watter soort keuses moet ek maak dat die vrug van die Heilige Gees in my gekweek kan word? Watter soort besluit gaan meer liefde in my laat groei sodat ek kan leer om meer onselfsugtig te leef? Watter soort besluit gaan my meer vreugdevol maak sodat mense die lewe van Jesus in my kan waarneem? Watter soort besluit gaan my vul met vrede te midde van swaarkry en uitdagings? Watteer besluit gaan my help om meer getrou te wees in my roeping en in my sleutelverhoudings? Watter besluit gaan my help om selfbeheersing aan te leer, sodat ek nie altyd die gemaklike en veilige ding kies nie maar die regte?

Jesus het ons so lief dat Hy ons nie net red van ons sonde nie maar ook red in die rigting van beter menswees. Wanneer Hy sê volg My, dan daag Hy ons uit om die beste weergawe van onsself te word. Dis slegs Jesus-gefokusde besluite wat ons daar sal kry.

Dus:

Watter soort mens wil jy wees?


bottom of page