Helde van die Kruis

September 24, 2019

Die aaklige gebeure van die afgelope paar weke in ons land het almal kwaad gemaak, en almal is moeg, en skree “genoeg is genoeg”. Dis tyd om op te staan, sê almal. Kyk, vroue moet nie onveilig voel nie- maak nie saak waar hulle is, of wat hulle kleredrag is nie; kinders moet kan lag en speel, en die vreugde van kindwees ten volle kan beleef en geniet. Gemeenskappe moet in vrede kan funksioneer sonder dat die weermag ontplooi word, en mense van elke volk en nasie móét in liefde mekaar kan omhels sonder om kante te moet kies.

 

Dis nodig dat daar opgestaan moet word. Soms moet ons kollektiewe moegheid en woede die nodige uitdrukking kry.

 

Dit kry iets reg.

Dinge gebeur.

Mense skrik wakker.

 

Selfs gelowiges sê dis tyd om op te staan vir Jesus- “in ‘n tyd soos die” voeg almal by. Soos die ou koortjie sê, “Staan op, staan op vir Jesus, o helde van die Kruis”. Maar as ek die evangelie reg lees het Jesus juis vir Petrus vermaan omdat hy wou opstaan vir Hom; dat geweld en geraas nie van jou ‘n held van die Kruis maak nie. Inteendeel, in Handelinge 7 lees ons van die eerste held van die Kruis- naas Jesus. Stefanus se laaste woorde, “Here, moenie hierdie sonde teen hulle hou nie” (Hand. 7:60), die het van hom ‘n held van die kruis gemaak.

 

Iemand vra my nou die dag of ek nie iets gaan sê oor die verkragting van vroue nie. Ek is immers ‘n pastoor, en dis tyd dat die Kerk moet opstaan en [sy] stem dik maak. Almal wil hê jy moet moeg wees vir die goed waarvoor hulle moeg is- anders is jy nie ‘n regte Christen nie; anders verstaan jy min van God se hart.

 

Ek wonder toe net of ons nie dalk die heeltyd so vinnig opstaan teen goed dat die hele land amper in permanente duiseligheid leef nie; dat niemand kans kry om te sit nie, want daar is elke dag iets om moeg voor te wees en om teen op te staan. Môre gaan ons wéér moet optog hou, wéér aan die brand moet steek, en wéér moet skree: “genoeg is genoeg”.

 

So, ek is ook nou moeg. Moeg van “opstaan teen”, en gaan nou ‘n slag “sit vir”. Sit en na my eie hart kyk; sit en luister na ander; sit en introspeksie neem, en die homofobiese, seksistiese, feministiese, rassistiese donkerte in my eie hart bekyk voor ek weer opstaan teen iets. Ek wil eers genees word van my duiseligheid van te vinnig wil opstaan en ‘n geestelike MRI te ondergaan by die Kruis, op my knieë.

 

Jesus nooi ons juis uit in Matteus 11:28-29 (DB)- veral in swaar tye soos die, “Daarom wil Ek julle uitnooi: Voel julle moeg vir hierdie lewe? Knak julle knieë onder al die probleme en verantwoordelikhede wat julle moet dra? Het julle godsdiens leeg geword sodat dit julle geestelike dors nie meer les nie? Kom dan na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan My toe. By My sal jy weer die sin van die lewe ontdek.

 

As volgeling van Jesus kies ek om te glo dat daar ‘n ander roete is. Die roete van nederig sit by die Kruis sodat ek as held van die Kruis kan opstaan; die roete van die krag van gebed; die roete van liefde; die roete van Jesus se verrykende uitnodiging dat daar by Hom rus is vir almal wat moeg is.

 

Hierdie roete is nie ‘n apatiese roete nie. Dis nie ‘n roete van wanhoop nie. Nee vriende, dis die Kruis se roete; dis die “road less travelled” waarop Jesus Sy volgelinge nooi. Die een wat sê, ek hoef nie op te staan vir Jesus nie; Hy’s die Een wat opstaan vir my. Ek hoef nie teen alles en almal te baklei nie.

 

So, wat staan die Kerk te doen in ‘n tyd soos die? Hoe sit ons eerder, as om saam met die skare te skree, “bring die doodstraf terug”?

 

  • Ons gaan kniel by die kruis en bely eers ons eie sonde- Die balk in ons eie oë (Lukas 6:42).

  • Ons bly biddend met hoop in ons harte, want dis ons kragtigste wapen- Bid sonder ophou (1 Tessalonisense 5:17).

  • Ons leef liefde tussen alle mense op ons pad- Jou naaste liefhê (Matteus 22:39).

  • Ons nooi mense om Jesus se uitnodiging te oorweeg- Daar is rus vir die wat moeg is (Matteus 11:28-30)

Hoor tog my hart. Daar is absoluut tye waar ons moet march en uitspraak lewer en moet opstaan, maar as ‘n gelowige in die land moet ek eers my knieë op die grond laat sak voor ek my vuiste in die lug gooi. Ek moet eers met my eie sonde gaan sit voor God voor ek kan opstaan teen dit wat my so kwaad en moeg maak. Want, as ek heeltyd my vuis in die lug hou en nie my knieë buig nie, of heeltyd ‘n swaard optel en nie my kruis nie, is ek nog nie waardig om ‘n held van die Kruis genoem te word nie.

 

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

December 6, 2019

December 5, 2019

December 3, 2019

November 29, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: